Zandra Bezuidenhout. Pretoria: Retrospektief
PRETORIA: RETROSPEKTIEF*
Die stad is vrot geskryf van ou helde
monumente en ‘n meesterkerkhof
vir ministers en presidente
maar daar was ‘n nabloei
van suave gegradueerdes
kakpraatdiplomate somersaande
op stoepe van privaathotelle
in wit Arcadia en Sunnyside
die ronde geluk die doltyd
van dans by Silverton
veilig in die jare sestig
met die stad op homself verlief
vrot besing van jakarandas
is die stad oor die eeu se rug
‘n omheinde herinnering aan vryheid
vrot geskryf van misdaad
Meintjieskop laat sak sy hoof
die krot staan op die drumpel
van ‘n nuwe bloeityd
fok die Voortrekkers
alles was net ‘n boeregrap
Waterkloof en Groenkloof
poep teen donderweer
smiddags om vier
plof buie nog klokslag
soos koeëls in die stof
gister se haelwit gestapelde wolke
trek uit teen die bloute
van ons hoëveldse hemel
terwyl rook nog
uit die lokasies rook
spook digters langs die Apies
met die krale van Tshwane
duiwe aas op Kerkplein
en skyt dit uit
oor oom Paul se droewe kop.
© Zandra Bezuidenhout / 2013
*Met erkenning aan Guillotine Winter 2013, Uitgawe 2 (Pretoria), waarin die gedig oorspronklik verskyn het.
Uitstekend beskryf!
Briljant geskryf Zandra! Oor tyd en ruimte heen met die ambiance van verskillende tye.
Baie dankie Annette en Evette vir jul reaksie op pret met Pretoria.