lykbesorger
op orreltone onderneem
die digter obsessief
weer eens ‘n treurige vers
vir nóg ‘n beste vriend
– teen so ‘n aanspraak kragteloos –
:hang om die lang manel
set woorde onverpoos
pen in die ink onmiddellik
veer-in-die-hoed sy moet
die elegie opsluit vermink
berei ‘n krans pervers
letterlik wit en swart
plastiek lykdig gerig
op oorle iemand van statuur
stuur na die nagkantoor se pers
bundel die dood as hamburgers
brood op die water
op die duur:
glansend verniste klank
verlakte blink kewergevrete-kis
© Christine Barkhuizen le Roux / 2014