(“ek het haar uit die oog verloor”)
my dood is ‘n witborskraai
met wat lyk na ‘n beseerde poot
en ‘n verneukte vlerk uit die een
of ander blou beweging geskud
vanoggend toe ek langs die Lethe loop
vlieg my dood op uit ‘n oewerboom
en sukkel om teen die wind te bly hang
terwyl dit dringend bo my kop fladder
vaark! vaark! probeer die kraai met ‘n rou bors
die benoude boodskap aan my oordra
dat takke bo die donker poel se rimpeling
bewe en maanmoer se grynsende glinstering roer
dis tyd o dis tyd om te bekeer
om kraak die nagpad te vat
‘n ander oopkoms in o kyk binnekort
gaan lig na kouword draai
die somerseisoen haar bitter gat sien
jy sal die berg tog nie meer beteken
het jy dan nie genoeg ver-ek en bevlek
is daar godweet nog woorde oor
om te wurm in jou lyf?
my dood is ‘n witborskraai
my dood wil my van droom afraai
my dood moet my nog teen die lewe waarsku
maar ek wil mos nie hoor nie
© Breyten Breytenbach / 2014

Ek is mal oor die gedig! Die woorde wurm steeds helder in jou! – ‘n pragtige gelaaide metafoor – soos die hele gedig. Dankie!
Is hierdie siening van die dood as boodskapper ‘n aanduiding van ‘n nuwe ontwikkeling? So persoonlik en besorg soos die idee, maar omgekeer, van ‘n beskermengel?