Optelvers
‘n Katedraal en ‘n kerkhof
in Zagreb se stuifreën
bekyk op my reisplan.
Aljander aljander
so deur die bos:
zagrabiti bedui glo
om te “scoop”.
‘n Man met ‘n sambreel rooi
loop voor my kamera in:
ongenooid en ongevraag.
Agter my in die Bistro Capuciner
sit ‘n ouvrou alleen
met ‘n bos blomme
gekoop op die markplein
vir haar huis waarheen
sy waarskynlik sal terugkeer
om die sirkelroete van vrouwees
te voltooi nadat sy haar man
afgegee het aan die Aljanderbos,
haar kinders vertrek
het na ‘n vreemde plek
waar haar kleinkinders
die katedraal nou verloën.
Asof sy voel ek skryf oor haar,
verlaat sy hierdie gedig
en stap na die kerkhof.
Alles op reis het te make met tyd,
wagtyd, opruimtyd, vertrektyd …
Geduldig wag ek op die slot
voordat ek uiteindelik uit Zagreb
sal gaan, ‘n aangekomene,
nie vertrekkende.
© Joan Hambidge/ 2014
Dankie Joan. Al lankal op ons bucket list.
http://joanhambidge.blogspot.com/
Die reis agter die gedig