Om ‘n uitskotvers oor die landskap van Kroasië te skryf
vir JdL
Met filmmaak beland
daar glo altyd footage
op die vloer
en fotograwe delete, delete, delete,
so weet ons,
tot die volmaakte foto
die oomblik
perfek vasvang.
Met die digkuns eweneens
‘n soeke na balans, na ewewig.
Ook hier land vele woordskaafsels
op die vloer en notaboeke,
sit vol idees, mank metafore,
indrukke wat nooit vers word nie.
In Dubrovnik herken
ek ander landskappe,
dieselfde indrukke,
wat nooit verder as herinnering
gekom het nie, blote inskripsie
in ‘n noteerboek of opgawe
vir die taksman.
Waar eindig lewe en begin kuns?
“Wat nooit, wat nooit”, hoor ek
jou kritiseer …
“Waar o waar is die Russiese Roulet?”
Ek probeer weer:
In Dubrovnik op die Adriatiese see,
onthou ek ‘n terloopse inskrywing,
‘n obiter dictum,
op ‘n ander kontinent,
in ‘n vreemde tydsone
met reise wat oophand, gul
beelde uitdeel oor verlore liefdes
en verlore drome. Van Puerto Montt
tot Saigon telkens beelde opgetel …
Nou het die merry-go-round gestop,
en iewers weeklaag
‘n vals viool en trekklavier
op die dorpsplein met mure
om die stad en óm my hart.
Miskien, miskien omdat die vure
geblus geraak het …
Sal ons die lier
langs die paspoort
ophang of doodeenvoudig dig:
In Dubrovnik
nie meer
aan die mag
van die digkuns geglo?
© Joan Hambidge / 2014
