Dans van die ou man
Wolke in wit klere
laat die sonlig met ‘n glimlag verbygaan;
dit moet die gras gaan ontmoet,
die bome, sodat hulle
daardie polsende groen
van hulle aan my oë
kan voorstel.
Dag, jy is jonk,
ek is ouer,
maar ons deel,
ons deel die vreugde
dat ons hier is.
My hand raak aan die ooste,
my hand raak aan die weste;
ek draai en voel die noorde
tussen my vingers,
die suide kielie my palm.
Ek buig, ek kom regop,
ek beweeg my voete
oor die warm aarde,
die lewende, woelende grond;
my voete lig en land
om die sand te streel,
die leem te voel,
die swetende modder te ontmoet.
My voete is gemaak van klei.
(c) De Waal Venter / November 2014
Interessante poëtiese kommentaar, Myra. Baie dankie!
De Waal, dis pragtig. Woorde gerol teen Ver-hemelte, maar aards.
Hoe ouer ek word, hoe jonger word ek. Daarom is kleivoete vir my kleutergemoed so goed; kleivoete … wat ‘n mens kan bry … tot vlerke, dalk?