Paseo Trocadero
– Vir JdL
Oppas vir kansvatters en skelms
en grypdiewe, waarsku jy; ons leef
in moeilike tye. Hoi hoi, roep ek,
hoe vreemd
dat dít wat moet beskerm
jou uitlewer? Nog ‘n jaar
het ons oorleef en as ons die jaar
sou personifieer, was sy ‘n genoot,
wispelturig en bemoeisiek.
In ‘n kafeetjie sit ‘n man
met ‘n Batman-t-shirt
diep in ‘n selfgesprek gewikkel.
My stil binnepraat rig ek tot jou
op ‘n ander kontinent, in ‘n ander tydsone.
In ‘n sloom namiddag, Buenos Aires
spoeg ‘n man op straat, wyl ‘n ambulans
straataf neuk. Papiere dwarrel
vrugteloos grond toe
nes hierdie praatsiek gedig.
In ‘n digstring sou ek vlot reageer
op vrae soos wat-het-die-gedig-aangestig?
‘n Reis na die Pampas om weer die tango
as simbool van die digkuns te beloer
daar doer in die Buenos Aires in
sodat ek my brose psige kan beskerm
teen te veel afwesigheid en die groot-groot Niks
in die land van spekskieters en verspeelde kanse.
Hoe het jy gevoel toe jy die vers geskryf het?
Warm en aan’t spook om al die ritmes
raak te dans nes die twee dansers
op die uithangbord van die Trocadero Paseo
gestol in ‘n volmaakte rymdwang pose:
So oppas vir digters
wat kierangslaai eet
en gedigte afruk
van advertensieborde
niksverrymend.
(c) Joan Hambidge / Januarie 2015
Vir ‘n virtuele saamreis:
http://joanhambidge.blogspot.com.ar/
Uiteraard: vir Johann de Lange.
Dankbaar Gisela. Hierdie gedig is Johann de Lange – my gespreksgenoot uit die wonderbaarlike Buenos Aires.
Voorspoed vir al die digters, digteresse & ander esse vir 2015!
Wát ‘n gedig! Veelvlakkig, verfrissend, ondermynend. Ek hou veral van’ sodat ek my brose psige kan beskerm /teen te veel afwesigheid en die groot-groot Niks’. Jung en Zen in een.