en skielik is dit stil
(André, 7 Februarie 2015)
1.
miskien was jy bly dat dit byna verby was –
die lang vlug (die lewensvlug)
na misverstande
na mooi maniere van ander na die mond te praat
miskien het jy uitgesien na ‘n tuiskoms –
dat Europa uiteindelik koud en bar is
onder haar kors knarsende ys,
om in die koestering van ‘n berg
en onder dekruimtes van sterre
weer hitte in die litte te kry
miskien het jy deur die patryspoort gesien
hoe naak en klipperig begelei ‘n maan
in haar voleindiging
die metaalvoël se donker roete
miskien het jy kortpad gevat toe
ophou-lewe toe daar bo
omdat jy tog al halfpad was
na die doodsengel se skryfkamer
2.
wat afkom aarde toe
is soos alle geskrifte in vuur geuiter
maar net ‘n onvoltooide manuskrip sonder sin
geprewel met ‘n verbrande tong
is maar net die lyk
wat nou sonder skynsel is
en woordeloos stof sal word
miskien sal kewers ‘n stanza bou
in die holte in die grond
om daar te paar
soos brandende tonge
en vir mekaar verhale te vertel
as vormgewing van die donkerte
se woordelose geknetter
(c) Breyten Breytenbach / 07 Februarie 2015

Sonder Houd-den-Bek en Philida sou baie klipharte nog yskouer wees.
Andre P Brink mag gegroet het, maar sy stem is nie stel nie. Rus sag!
Die vegters van die wat nog die Apartheidsjare as volwassenes beleef begin nou yl raak, soos wat dies uit die 2WW nou amper almal weg is, en die van die 1WW is klaar almal heen, so ook die Anglo-Boere Oorlog, en daarmee — wie is die nuwe geslag dan? Dis nou tyd om nuwe geeste te maak opstaan, ons het julle nodig.
N.P. van Wyk Louw uit “Nog in my laaste woorde”
“[M]ooi is die lewe en die dood is mooi” (N.P. van Wyk Louw)?
Dankie dat jy ons almal herinner aan die grilligheid van die dood, Breyten. Die omstandighede van André P. Brink se dood laat my tog dink aan die gedig “De tuinman en de dood” vn P.N. van Eyck.
De tuinman en de dood
Een Perzisch Edelman:
Van morgen ijlt mijn tuinman, wit van schrik,
Mijn woning in: ‘Heer, Heer, één ogenblik!
Ginds, in de rooshof, snoeide ik loot na loot,
Toen keek ik achter mij. Daar stond de Dood.
Ik schrok, en haastte mij langs de andere kant,
Maar zag nog juist de dreiging van zijn hand.
Meester, uw paard, en laat mij spoorslags gaan,
Voor de avond nog bereik ik Ispahaan!’ –
Van middag -lang reeds was hij heengespoed-
Heb ik in ‘t cederpark de Dood ontmoet.
‘Waarom,’ zo vraag ik, want hij wacht en zwijgt,
‘Hebt gij van morgen vroeg mijn knecht gedreigd?’
Glimlachend antwoordt hij: ‘Geen dreiging was ‘t
Waarvoor uw tuinman vlood. Ik was verrast,
Toen ‘k ‘s morgens hier nog stil aan ‘t werk zag staan,
Die ‘k ‘s avonds halen moest in Ispahaan.’
(P.N. van Eyck)