Binneblik
Met skemer en vroeg soggens kan sy glo,
deur stof en mis, ougoud en perlemoen,
deur die gelaagde strale gloed en lig,
dat daar ’n waardigheid in dinge is,
dat die verhale deursypel en saam
vloei tot ’n gety in tydelose tyd.
Die ongenade van die middeldag
laat elke dorp so weerloos oop en bloot,
verkwansel aan verglyding en verweer
voor elke blik wat ongenaakbaar kyk.
Hoe sou die ou verhale nuut kon word
as die welbehae uit die oë wyk?
Radeloos oor ’n ramp wat ruim beskou
geen ware ramp is nie, staan sy nogtans
gans leeg, geluideloos verlam, en wens
vir nuwe oë, vir ’n ander blik,
omdat die kyk wat tot herkenning lei,
meer verg as wat twee oë registreer.
Daar is ’n buitelyn en ’n fatsoen,
’n vorm, formaat en die kontoere,
daar is die plasing en die samehang,
maar fynkyk wys die breuke in die beeld:
die koue onderstroom spoel sterk en kalf
belangeloos bekende walle weg.
Sou sy dalk tog met hierdie onpaar oë
in streke van groot onwaarskynlikheid
’n buitetydse duursaamheid kon saamraap?
Sou sy nagblind die donker in kon roep
dat uit skakeringe van swart ’n dorp asof
voor skoongewaste vensters sou kom staan?
Sou sy aan rommelwinkels van vreemdes
wat taalloos kommunikeer, aan klinies
gekloonde koopsentrums, aan vergane
slaggatbedolwe strate, aan sieklik
stowwerige bome en slordige
sypaadjies sin kon gee deur hoe sy kyk?
Die huise meer as bousels bloot van steen,
omdat die mure numineuse aarde is,
die vensters en die deure oopgeskreef
op die menslikste mistiek van menswees
en die strate nuutherstelde roetes
wat lewens met lewens ryklik verbind?
Al hoe meer, al hoe meer lê al dieper
ágter die oë, lewensonthalwe.
Op die onpaar oë aangewese
vir die binneblik om sagter te kyk,
kies sy die goue ure van min lig
en die genadige blou van die nag.
© Heilna du Plooy / 2015
Dankie, Carina.
@ Heilna: pragtige slotstrofe! Ook die emmigrant kry onwillekeurig “onpaar oë” met ‘n skerp buiteblik. Hierdie genadelose blik sien die slaggatverval in die Vrystaatse Parys se strate; die tuc shop anderkant die brug op die R501 waar die eienaar woordeloos kopskud (hy het dit nie) – al herken hy die versoek na sy vaderland se lekker “simit”. Dit bly dan ook ‘n groot kuns om “uit streke van groot onwaarskynlikheid” nie krities, veroordelend of teleurgesteld oor hierdie dinge te skryf nie. Om agter die toetsbord ‘n lagie “duursaamheid” daaroor te probeer lê, is miskien iets soos liefde – wat alles bedek, maar liefhê is dikwels moeilik.