Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
19 April 201510 April 2015

Heilna du Plooy. Binneblik

Binneblik

 

Met skemer en vroeg soggens kan sy glo,

deur stof en mis, ougoud en perlemoen,

deur die gelaagde strale gloed en lig,

dat daar ’n waardigheid in dinge is,

dat die verhale deursypel en saam

vloei tot ’n gety in tydelose tyd.

 

Die ongenade van die middeldag

laat elke dorp so weerloos oop en bloot,

verkwansel aan verglyding en verweer

voor elke blik wat ongenaakbaar kyk.

Hoe sou die ou verhale nuut kon word

as die welbehae uit die oë wyk?

 

Radeloos oor ’n ramp wat ruim beskou

geen ware ramp is nie, staan sy nogtans

gans leeg, geluideloos verlam, en wens

vir nuwe oë, vir ’n ander blik,

omdat die kyk wat tot herkenning lei,

meer verg as wat twee oë registreer.

 

Daar is ’n buitelyn en ’n fatsoen,

’n vorm, formaat en die kontoere,

daar is die plasing en die samehang,

maar fynkyk wys die breuke in die beeld:

die koue onderstroom spoel sterk en kalf

belangeloos bekende walle weg.

 

Sou sy dalk tog met hierdie onpaar oë

in streke van groot onwaarskynlikheid

’n buitetydse duursaamheid kon saamraap?

Sou sy nagblind die donker in kon roep

dat uit skakeringe van swart ’n dorp asof

voor skoongewaste vensters sou kom staan?

 

Sou sy aan rommelwinkels van vreemdes

wat taalloos kommunikeer, aan klinies

gekloonde koopsentrums, aan vergane

slaggatbedolwe strate, aan sieklik

stowwerige bome en slordige

sypaadjies sin kon gee deur hoe sy kyk?

 

Die huise meer as bousels bloot van steen,

omdat die mure numineuse aarde is,

die vensters en die deure oopgeskreef

op die menslikste mistiek van menswees

en die strate nuutherstelde roetes

wat lewens met lewens ryklik verbind?

 

Al hoe meer, al hoe meer lê al dieper

ágter die oë, lewensonthalwe.

Op die onpaar oë aangewese

vir die binneblik om sagter te kyk,

kies sy die goue ure van min lig

en die genadige blou van die nag.

 

© Heilna du Plooy / 2015

 

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Heilna du Plooy. In die streke van die wind
Twee nuwe Stemgrepe: Heilna du Plooy →

2e gedagtes oor “Heilna du Plooy. Binneblik”

  1. Heilna du Plooy says:
    26 April 2015 at 22:35

    Dankie, Carina.

    Reply
  2. carina van der walt says:
    21 April 2015 at 09:20

    @ Heilna: pragtige slotstrofe! Ook die emmigrant kry onwillekeurig “onpaar oë” met ‘n skerp buiteblik. Hierdie genadelose blik sien die slaggatverval in die Vrystaatse Parys se strate; die tuc shop anderkant die brug op die R501 waar die eienaar woordeloos kopskud (hy het dit nie) – al herken hy die versoek na sy vaderland se lekker “simit”. Dit bly dan ook ‘n groot kuns om “uit streke van groot onwaarskynlikheid” nie krities, veroordelend of teleurgesteld oor hierdie dinge te skryf nie. Om agter die toetsbord ‘n lagie “duursaamheid” daaroor te probeer lê, is miskien iets soos liefde – wat alles bedek, maar liefhê is dikwels moeilik.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Anne-Marie Bartie. kapitulasie

Nuutste bydraes

  • Resensie: Vers & Kapittel III (Daniel Hugo)
  • Nini Bennett-Moll. Jack Unterweger en die outeursfunksie van ’n reeksmoordenaar
  • Jan Rabie-Rapportprys 2026
  • Netwerk24 kykNET Rapport Herman Binge-filmprys 2026
  • Netwerk24 kykNET Rapport Breyten Breytenbach-prys vir digkuns 2026

Nuutste kommentaar

  1. Helené Coetzee on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)27 September 2026

    Wat 'n aangrypende boek!

  2. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  3. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  4. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  5. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d