Windings
Die gejaag na wind is ’n industrie.
Die kleur van pastorale herinnering
is groen; ek versin ’n Herme
wat vlerkvoet en vrymagtig
beweeg, sug in ’n wilg, reën
uit die veerlig van wolke lees, of
trekvoëls blindvlug om seisoene
roteer. Die windvanger het sy
bekoring verloor. Hoog in lugstrome
kolk aasvoëls uit sentrifuges,
roofkyk vir karkas en kreng,
te skaars om kouevuur in balans
met entropie te bring.
Die dinamo’s draai onverpoos.
© Nini Bennett / 2016