Nini Bennett. Aasvoëls
I
Aasvoëls
(Accpitridae)
Die skadu’s roofkyk die son.
Die aasvoëls weet: hier is lewe,
bene winddroog en sonwit vergeet;
dáár, fossiele ougoud deur eeue verkleur.
Wie se oorskot roep die elemente
tot getuie, wie ken die geheimnisse
van antieke storms en tektoniese skuiwe?
Bekke vlym deur karkasse en navigeer
die dood, die finale katarsis,
stil en sirkelend die wolke in.
II
Monniksaasvoëls
(Necrosyrtes monachus)
Die aasvoëls weet.
Die pikorde van die monnike,
bestand teen besmette vlees,
is geestelikes wat tussenwêrelds
die karma van stiltetorings stroop.
Die monnike weet al lankal
dat die aarde soos ’n vergrootglas smeul,
in droogtes rooftrek en skunnig leef.
Die simpel hiënas neem die wyk
as die kaalkoppe neerstryk, sedig
en bejaard al-om-die-beurt
kluif en krop om kreng
soos priesters om ‘n tempelfees.
© Nini Bennett / 2016