weer en verweer : maanpoen vir die 16de September 2016
as monoloog vir twee monde
« In the evening I finished reading a book, and because I was feeling so alone,
I buried the book on the edge of the forest with a borrowed spade »
Werner Herzog, Conquest of the Useless
« We live in order to remember that we know »
Imre Kertész, Kaddish for an unborn child
« kyk maan
eet pampoen
breek wind »
Basjô
ou Woordnar het vir hom ‘n maan probeer pluk
vir sy verjaardag die sestiende septimmer
by ontstentenis aan die immer ontwykende pampoen
wat tog alleen die versoening is
tussen metafoor en ondergaan
want al swel die vrug hoe boepensboer
bly blink die skedel in die moer
het hy gedog, gedagtig aan Dogen –
ook maar ‘n goddog – wat beaam
dat maan alle verstand is en alle verstand maan
terwyl hy met ‘n kwas donker ink
die glans van denke in die water laat sink
nie weer-gee nie, maan hy hom toe,
beklink eerder saam-wees
en bedink dat daar sand in die ink is
en musiek in die sand
en musiek is beweging
van stilte tot stilte
al verg die soeke na die tekens van betekenisse
in die nag ook die kromme note
van ‘n volgehoue kontsentrasie
gaan plant liewers jou woorde soos klippe
dat die maan op mag kom
brom sy Vrou –
kyk, die pampoen het haar lankal versoen
met die vrotword van alle vesel
verby die ontvlesing, vergeet en verdwyning
van gedagtes,
waar net die wéérsaam en gééwees van die hand
soos krapspore oor die land van papier
om die maan se opkom en ondergaan
in lig te verduister
nog bestaan van stilte tot stank
wat gaan in godesnaam met jou aan ? vra sy –
mens sou sweer jy is met die maan gepla
so ‘n selfhandige vertoning terwyl die land brand ?
sit neer, sit neer jou seersaam woorde !
dis waar dat jy so lank gesoek het
maar dit beteken nie dat jy sal kry nie :
kyk, daar is musiek in die sand en ritme in die hand
en woorde bring wel die verskuiwing van ‘n diereriem
maar die swye van ligword hol ons uit
tot die vergaanskil van ‘n gedig
en om die patroon van maanpoen in die hemel
van aanhou skryf te soek
waar sy verslete soos ‘n skoen van seisoen
tot seisoen se verdwyning verslof –
om daardie versinde besinning,
die uit- en inkring van ‘n duisternis woorde
te wil binnesingsoen met lippe en tong –
daarvan kry jy tog net ‘n mond vol grond ?
wat se binnensmondiggeitheid is dit nog met jou ?
sit neer ! smyt weg ! gooi toe !
of gaan hang die woorde ten minste
aan die wasgoeddraad sodat son
die muwwe saadvlekke uit mag bleik !
as aas vir die sterre ?
pleit ou Woordnar –
ek kan die vingers nie laat ophou bewe
al is ek ook ‘n demokraat
en my mense skuldig
skuldig
skuldig…
o die maklike rymelary
sê sy
om die hand mak te maak
sê hy
maar dit gaan al so lankal aan
van maan tot maan
hierdie onderploeg van drome –
is dit dan verbeelding
of ‘n onthoude lewe ?
die tweetandvurk
van alleswetenheid
en weet van niks :
sou dit presies die skepding wees
om die ewige lewe
mee te eet ?
dit bly my immers by
tussen die twee uiterstes
van niks te weet nie
en alles te verstaan :
die middeweg
voetjie vir voetjie
in vryval
weer op reis deur die dag
waar afstande dans dat die stof so staan :
verlede en toekoms één dynserige
lugspieëling van lig en lafenis
as bymekaarkombestemming
net-net nooit bereik
o reisigervoëls
julle wat ‘n streep trek deur die hemel
met julle hoë vreugdeklief suide toe :
vlieg stadiger
sodat ek ‘n kiekie kan neem
om te onthou
niemand vergeet vir altyd
die geboortegrond nie
en daardie trosse ligte in die vallei –
lamppale, stoep, leë kantoor, liefdeskamer –
sjjjtt…
maak donker
sodat ons kan luister
na die helder vlerkgeklap van sterre
ek wéét ek moet begrawe :
skerwe spieëls, slagtersmesse, blinde oë, verstarde
voëls, windrose se haanrigting-dui
na liefdesfluistering se utopie, roubriewe,
die gewig van Boeddha se kesa, dooie
koeie in die sloot en bestaanskrete uit die skoot…
tot selfs die onthou aan jou, Vrou
maar herken ook die gesig van glas –
hoe kan dit anders ?
ons is dan gedeelde goed –
proe self die uitspreek op die tong –
ons is dan familiebloed ?
ek kan tog nie meer as om te wil lewe nie
al is ek ook ’n demokraat
en my mense skuldig
skuldig
skuldig
om uit die rommel en drek en reste van vergaan
weer met die woorde op te staan
pietsnot, t’neitjie, sporrie, varkiesknol,
vygiebos, gousblom, bokbaaivygies, sandsonate,
sterretjie, botterblom, bittergousblom, perdebos,
dassiegousgesig, Namakwalandse madeliefie…
en niks ween so soos
‘n olyfboom
wanneer die wind waai nie
jy sê my binnensmondsemompels
is om van pampoen ‘n maan te maak
en dat die mond te geheim is
om pyn nie te voel nie ?
dat woorde
beeldbeweging bring
maar
stilte
hol
ons
in
?
luister dan :
om terug te keer na middernag
die hele wêreld wyd verskuil
die ganse hemel ene maan
sodat wolke die einders soom
met ‘n versilwering van as
oor die ruimtekleed
en die sterreveld ‘n kouevuur
se knetterende kole
die leë huis vol soet musiek
van ‘n beurtsang oor die radio
wat jy vergeet het om af te sit
en besluit om aan te los
wanneer jy nou verder slaap
sodat jy, Vrou, wat hierdie trajek
êrens op reis in koue papier
so lank hierna sal lees en deel
jou die klanke mag verbeel
as na-geur van die nag vol maan
luister : skemeroggend effense klammigheid
as boom en struik die nag
uit asem
maan bo die heuwel die wakende
oog
alles verstaan
moenie vingerwys nie
sit kruisbeen op die balkon
om die werf se geure in te adem
‘n trilling frases met ritme te vang
lyf ‘n stapeltjie bene gegleuf
in vleis
met vel omspin
herinnering is ‘n vreemde ding
daar was nagte se jakkalsroep
in die verte
en watter stiltes maak nou ‘n lushof
van nagtegale se sang
en vroeër het sonbesies selfs in die donker
hul ligdeurleefde sutras geneurie
dit was die geritsel
van kreukels in biddendes se klede
luister :
onder in die vallei ‘n hond se blaf
ook die oomblik van rillende
sterwe is goed
om in die moment van lewe
weer te mag vergaan
is dit verbeelding of onthoude lewe ?
buig diep prewel
uit die onsigbare sal die lig daag
stadig soos asemhaling
die maan is pampoen en pens en parool
in die blou bodemloosheid
op
gegaan
Breyten Breytenbach
Katalonie
Van harte geluk, Breyten! Mag die nuwe lewensjaar ‘n stroom onverdunde vreugde wees. En dankie vir al die geskenke wat jy aan soveel mense op soveel terreine uitdeel … Bostaande gedig is ‘n voorbeeld daarvan.
Pampoenresep
ʼn Anderman het gaan soek na ʼn pampoen wat ʼn man sou koop vir sy verjaardag die sestiende September. Die tyd was nou hier en hy was honger. Wat jy waar gaan kry? brom Anderman se vrou. “Die pampoen is nou president.” Dit was waar. Al wat naby die pampoen kon kom was die vlieë of soms ʼn swaeltjie om aan sy pitte te pik. Was dit dan te veel gevra om die president te besoek op pampoendag, die sestiende September? Die maan was vol en later in die dag het dit voor die son verby gegly. Die anderman het op die balkon gaan staan om te sien of die maan nog in die lug sou hang. Meneer die president! Wat soek jy hier? Verbaas om te sien dat die pampoen op ʼn plastiek tuinstoel sit. Hy wou sy vrou roep om tee en beskuit te bring, maar sy sou haar nie steur nie. Die pampoen het begin huil en die man het geweet dis omdat sy kabinetslede hom wil vermoor. Soos ʼn samaritaan druk anderman die pampoen onder sy arm en begin hol. Ek neem jou na die man op sy verjaardag die sestiende September. Met ʼn langbeen trap die dogtertjie van die maan tot die aarde. Sy is weer vol eise soos skoene vir haar kaal voete en gratis toegang tot universiteit. #pampoenmustfall. Wat het jy daar teen jou blad? Voor ʼn antwoord soos ʼn voël uit anderman se mond kon spat begin die pampoen te grom. Dis’n bom.Dis ‘n bom! Alles was skielik blou, toe rooi, toe weer blou. Soldate het gekom sonder ʼn geloei en die pampoen teen die straat stukkend gesmyt. Met ʼn glimlag het hulle anderman beboet en sonder skuldgevoel die nag ingery. Running with pampoen. R300. Anderman het sy kop vas gehou en gekreun wat gaan die man nou maak vir sy verjaardag die sestiende September? Hoe maak ek ʼn feesmaal op ʼn sypaadjie terwyl al die pampoenkenners vir ons loer. Jy maak nou so sê die maandogterjie aan niemand spesifiek nie:
Halwe boerpampoen, ontpit en met skil en al in dik wiggies gesny; Olyfolie; kaneel; fyn gemmer; heuning (100ml.); Water. Sout na Smaak op die sestiende September.
16 September 2016
‘n Onvolmaakte huldeblyk. Baie geluk met jou verjaardag, emeritus pampoensmous.
Vroeg vanoggend was die ondergaande
maan oor Berlyn donkeroranjepam-
poenrooi – veels te mooi om ooit te kon
eet!
Liewe Helize: Dankie vir die kosbare cadeautjie (soos die Nederlanders sê). Ek het hierdie vers glad nie geken nie. Miskien sou die ongelukkige Celan woestyn toe moes gegaan het…Die brandlug sou dalk kon help met die heimwee na waterdood!
En aan Engela en Leon en Waldemar (ek spring nou van een kroniek na die ander): baie dankie vir die goeie wense. Ek neem dit ter harte, berg dit op, en probeer keer dat die ander verwante (jy het hulle genoem, Waldemar) nie alles tegelyk opeet nie. Want waar sal ons koets vandaan kom as ons die pampoen sou verslind?
gisteraand het die maan oopgeskulp
en nou glim ‘n perel stilte
in die donker see
as rigtingboei vir dolfyne
(Daar moet natuurlik ‘n kappie op die eerste (skie)e van die peren wees, maar die toetsbord wil nie. So ons sal maar kaalkop gaan boete doen.)
Baie geluk met die hoge verjaardag! mag daar nog vele wees…
As klein cadeau, ‘n “Afrika”-vers, vertaal en verwerk uit Celan se laatwerk:
Met klein klipwerke volgestopte
skenkend-verskenkte
hande.
Die gesprek spin
van punt na punt,
geskroei van
sproeiende brandlug.
‘n Teken
kam dit bymekaar
as antwoord op ‘n
broeiende rotskuns.
(vert. HvV – Paul Celan “Mit Mikrolithen”, Lichtzwang, 1970)