Melanie Grobler. Die Botrivier delta
Die Botrivier delta
Kragtige winde woer oor die canola’s
’n geel rivier vloei oor die ronde heuwels
verder weg is die bergwind in ’n droë dennebos
nog verder die sanderige familiebegraafplaas
die skadu’s van die dennebos, die grafte, die plaasopstal
dubbelgangers wat oor die plaas se werf sluip
’n hoenderhaan verstik as hy slepende klanke hoor
die ou opstaldeur swaai sussend oop en toe
en die klanke van die konsertina roep die Aandster
die vastrap in al sy improvisasies woer deur my gemoed.
Op die buitewyke ’n donker vlek wat groter word
deurskynend soos sprinkane in turf
wat die gedagtegang van die canola’s verduister
die wildernis word nie in woorde beskryf nie
die onbeskryflike gedigte waai in alle rigtings.
Blou lig stroom nou uit sy klere
hy lig sy voet op en sit sy voet neer op die plek
waar die heuwel sag en geel staan
waar die amberagtige rivier vloei.
Hier maak hy die kissie oop
om die vlerke van ’n mot te vind.
© Melanie Grobler / 2017