Melanie Grobler. die gebreekte vaas
die gebreekte vaas
1.
My ma het reeds haar naam vergeet
toe sy die trappe klim na die skemerhuis
waar stapels klere eens op ’n somermiddag
op die strand gedra is, nou slordig oor die meubels hang.
Ek droom van my ma, haar brandende gees
as sy na die mistige blou porselein vaas
deurdrenk met vreugdes en klaagliedere loop.
Daardie vaas op die tafeltjie wat draaiend
en tuimelend deur die ruimte geslinger word
die ligblou skerwe wat die ruimte vul
ek hoor die herhalende klank van versplintering
iets wat breek, asof sy vanaf die rant
van die afgrond al haar besittings
in die donker dieptes gooi.
Ek het nooit die gewig
van ware waansin ervaar nie.
2.
Ek is die enigste dogter van my ouers
beeldskoon maar nie sterk nie
alles het verander toe ek in die stad
met sy helder elektriese ligte gaan bly het
daar het my komplekse gemoed verdeel
my hoogtes het torings geword
my laagtes ’n dooie see
die driwwe en riwwe en onstuimige branders
van my siekte, word my lêplek
ek verdrink in die donker see
hier waar ons voor die kaggel van die strandhuis
sit, takseer my oplettende vriende my gedrag
hulle sien die reën as dit teen die melkhout slaan
buite die venster
tuimel een mal seemeeu
na die voue van waansin
die kosmos frons oor sy uitspattige gedrag.
3.
Na die storm lê die skerwe oop
en bloot op die wit strand
ek wag geduldig
my oë soekend na ’n besondere
blou, verdof deur sout en sand
ek wag geduldig
buk af om die stukkies te bekyk
na die sagte glimmende kleur
tussen die klippers en die skilfers
die porselein is droog en poreuse
die blou glans
vertroebel en gladgeskuur
sonder tekens van die verwoede golwe
wat hul vermorsel het; gloei en klik
hul teen mekaar in my handpalm
meteens is die blou meer helder
asof die pigment nog nat is
asof die glasuur so pas aangeverf is
die objek weet nie dat dit vermorsel is nie
die stukke weg gedra na verre strande
vyf stukke, een met ’n noukeurige geometriese
patroon, twee heeltemal wit, een wit met ’n smal
dubbel band donkerblou en die laaste skerf
die kleinste van almal, ’n goddelike kwatryn
op die dak van ’n piepklein pagode geverf.
© Melanie Grobler / 2017
Daar is iets baie mooi wat in hierdie verse aan die gebeur staan.
Baie dankie Charl-Pierre. Die vraag wat ek graag wil vra, is die sikus voltooi. Dink baie aan jou.
Hallo Melanie. Ek dink jy het bedoel siklus? 🙂 Dit gaan moeilik wees om daardie vraag te beantwoord, maar vanuit ‘n lesersoogpunt laat die drie gedigte beslis die indruk van ‘n siklus (wat werk met die herhaling van tematiese en/ of strukturele elemente). Sterkte met die nuwe werk.