Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
18 July 201722 July 2017

Breyten Breytenbach. Omswerwing

omswerwing

 

ons is die rondreisende troebadoers

my jong vriende, in hierdie winderige wêreld

om ons tekste voor te lees

vir ‘n onsigbare publiek wat nie die taal verstaan nie

 

moenie julle van stryk laat bring

deur die gestotter van masjiengewere nie

kom ons verbeel ons dis die kaalwang katlagters

van ons jeug

 

laat ons in ‘n sirkel staan

my jong vriende : wys my weer

die omslag van my laaste boek

bedenkinge, die foto wat ek nog nooit

vantevore gesien het nie, a,

van die kaalkop kind voor die outydse huis

in ‘n tuin van winde

 

ek onthou nou iets van die liefde

en dat ek ‘n onsigbare hond

aan ‘n tou om die hals gehad het

met die naam Zen – julle moenie

lag nie mense

miskien is hy nog steeds hier iewers brak

om vir die maanverstand en die wind te blaf

 

sal ons die tekste repeteer ?

moenie julle laat afsit deur die gestotter

van ‘n vreemde taal nie

my jong vriende : ek sal elke gedig

eien as synde myne opgedra aan Zen

want die dood is maar net ‘n tuin

 

as ons mekaar in die oë bly kyk

my jong vriende, sal ons

ons nie steur

aan die publiek wat die hond wegjaag

of nie weet wanneer die klippe ons weer

en weer doef nie

 

en luister, dit wil ek nog sê :

laat my die koda resiteer :

l’amour est un merdier de mouches

dit wil sê

die liefde is ‘n laken van vergeet

oor die kakemmer vlieë

 

 

© breyten breytenbach/ 2017

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Breyten Breytenbach. « die dood is ‘n oordrywing » (‘n klein reis)
Breyten Breytenbach. Om die pampoen te soen →

22e gedagtes oor “Breyten Breytenbach. Omswerwing”

  1. Waldemar Gouws says:
    20 August 2017 at 19:05

    Daniel, hier is deels die resep om te kan voldoen aan sekere spellingvereistes op jou rekenaar:

    druk alt in en dan 136 vir ê

    alt en 137 vir ë

    (Dis die ASCII-kode indien jy dit wil opsoek).

    Reply
  2. Daniel Hugo says:
    20 August 2017 at 09:10

    Nou ja, Nicolaas, wat wil ons meer h^e in Afrikaans as T.T. Cloete? O ja, daar is ook die Bybel. Die res moet maar swyg.

    Reply
  3. Nicolaas says:
    19 August 2017 at 20:14

    Waldemar Gouws.

    Reply
  4. Nicolaas says:
    19 August 2017 at 19:02

    Nicolaas het nie ‘n “vertolking” gegee nie; wel ‘n ongestaafde waardeoordeel. Nou ja, dis waar, kan jy Daniel mooi gedigte gee. Weet jy dat die mooiste gedigte deur Breytenbach geskryf is, maar Cloete dit verbeter het.

    Reply
  5. Nicolaas says:
    19 August 2017 at 18:40

    Ek praat toe helaas.

    Is dit nodig om mooi gedigte te verwring? Op die einde, Breyten?

    Kan ons nie die mooi tot in die dood soos TT Cloete beskryf nie?

    Reply
  6. Waldemar Gouws says:
    16 August 2017 at 14:30

    Kaalbas, jawel. Dan dien koue en kaalheid as versagting met al die gebibber van lip tot lip. Maar dis dalk ook net beskrywend van ‘n kaalholler wat gou (nie ‘despacito’) sy knieë gedra het dwarsoor jou “omswerwing-” gedig.

    Ek het my vergis (lelik) in die slotreëls. Die Franse uitdrukking oor die liefde en ekskrement (die strontspul) word aangepas in jou Afrikaans om aan te sluit by die punt wat die kerkman Paulus in ‘n brief gemaak het oor die liefde: dit bedek alles.

    Reply
  7. Breyten Breytenbach says:
    15 August 2017 at 20:43

    Kaalbas, Waldemar? Dan sal hy mos te veel bibber om nog te kan praat ook!

    Reply
  8. Waldemar Gouws says:
    15 August 2017 at 19:55

    Die woord val nie ver van die appel nie, maar kan iemand nie vir Nicolaas, stil soos ‘n kalbas, aan die praat kry nie?

    Reply
  9. Breyten Breytenbach says:
    14 August 2017 at 11:52

    Lanklaas dat ek so geloop is – mooi so!

    Ek sal maar opstaan uit die stof, die woorde uit my oë vee, en fyn uitkyk vir die Cape Times outjie wat my so dônner net omdat ek in die Argie wou kyk wat van Kakiebosch se blinde sieners geword het.

    Kruppel groete,
    Koos Agterplaas

    Reply
  10. Ryno Appel says:
    14 August 2017 at 09:20

    Nie dat geskeurde broeke onbelangrik is nie, Woordloop. Dink maar aan vader Argus: waar die broek skeur loer daar nog ‘n oog. En mens kan nie jou neus optrek vir ‘n ekstra oog in verblindende tye nie.

    mooiloop,
    Michael Jackson

    Reply
  11. Breyten Breytenbach says:
    12 August 2017 at 17:25

    Geagte Nie-Nikolaas Appel,

    Ek het dan gedog mens loop mooi juis om nie jou broek te skeur nie. Dis tog waaraan mens die Afrikaner uitken? (Die ver sigtigheid, nie die geskeurde broeke nie.)

    Mooiloop,
    Breyten Woordloop.

    (En ek het tog so uitgesien na Vader Krismis…)

    Reply
  12. Ryno Appel says:
    11 August 2017 at 16:52

    Ekskuus tog, verkeerd gespel. Nie-Nikolaas.

    Reply
  13. Ryno Appel says:
    11 August 2017 at 16:42

    Waarom is Afrikaners alewig besig om mooi te loop? En is dit nie een woord nie? Seker te doen met broek skeur. Maar dit gaan seker afhang hoe mens dans, met of sonder twee bene. Mooi gedig in elk geval, Breyten. groete, Nie Nicolaas.

    Reply
  14. Breyten Breytenbach says:
    9 August 2017 at 15:39

    Ek kom bietjie laat in hierdie gesprek en hoort seker eintlik ook nie hier nie. Tog – mosterd na die maalwanneer die borde reeds skoon gelek is – ‘n klein betitteling of regstelling gerig aan Nicolaas: om ‘n gedig wat redelik (nouja, sê dan maar ‘redelik’) goed die rigting hou einde toe te ‘ontspoor'(‘n fokts in die wiel te steek)deur ‘n onverwante aannaaisel, is nie ‘n “gawe” nie. Dis op sy beste ‘n verleiding, maar meer dikwels, helaas, ‘n onweerstaanbare en onverantwoordbare ‘vloek’.

    Dit kan natuurlik ook gebeur as gevolg van onhandigheid of ongevoeligheid teenoor wat die gedig wil sê. Wat nog te sê daarvan as die ‘produk-in-wo(o)rd(d)ing’eenvoudig nog nie ‘af’ is nie? Nie kan of wil sing nie?

    Daniël Hugo in ‘n onlangse rubriek in Die Burger oor die geite en geitjies van die taal wat min wil weet van beleid of aanpassing of pragmatisme, en by definisie en uit beginsel (ook in die eindspel) géén skuldgevoelens het nie, gee ‘n fassinerende uitleg van die baie maniere waarop die misterie vorm kry – en dalk inboet aan twyfel. Die gedig wat die rubriek vergesel is self ‘n werklik uitstekende illustrasie van die proses.

    Wat is ‘n gedig indien dit nie vryheid vergestalt nie? En wat nou wanneer dit met die onbetaamlike wil gaan vry? En is ‘vorm’ die pootjie van vryheid?

    Die ding is om aan te hou beweeg.

    Wie Nicolaas ook mag wees: baie sterkte en gesonde pyn vorentoe toegewens! Moenie die ou ballies te ongenadig wees nie. Ons sukkel ook maar om op (en in) tyd te bly. Ouderdom gaan nie verhoed dat die hand gly nie.

    Mooi loop.

    Reply
  15. Ryno Appel says:
    6 August 2017 at 13:45

    My woord “vertolking” is deel van ‘n opmerking oor iets wat in die algemeen geldig is, dit verwys nie na Nicolaas se uitspraak oftewel “ongestaafde waardeoordeel” nie.

    Geniet die Sabbat.

    Reply
  16. Daniel Hugo says:
    6 August 2017 at 10:26

    Nicolaas het nie ‘n “vertolking” gegee nie; wel ‘n ongestaafde waardeoordeel.

    Reply
  17. Ryno Appel says:
    5 August 2017 at 16:43

    Ek lees jou, Louis. Dit lyk of ek miskien’n insinuasie ingelees het in Daniel se kriptiese vraag? Dan vra ek maar om verskoning. Ek trek my vermoedens terug en word weer onskuldig, as dit kan. My gevoel oor die Breytenbach-gedig is dat dit veral in die sosiale kommentaar ‘n uitdaging uithou aan die jonger lesers in Afrikaans, wat reaksie verdien en nou ja – hier is alweer ‘n aanname aan my kant – as Nicolaas ‘n jonger leser is, laat hom tog maar praat. Dit is net soveel in “verkeerde” vertolkings as in “korrekte” vertolkings dat sosiale wendings hulself vertoon – wendings wat dalk belangrik kan wees vir dialoog.

    So, ek laat die gesprek maar aan Nicolaas (oud of jonk) en aan Daniel (oud of jonk) oor.

    O, laastens. Ek het wel gedink mnr Hugo se vraag is interessant. So laat hoor gerus van jou, Nicolaas.

    Reply
  18. Louis Esterhuizen says:
    5 August 2017 at 07:33

    Ryno, jou reaksie is inderdaad vreemd. Indien ‘n veralgemenende stelling gemaak word is dit tog sekerlik iemand se reg om te vra na voorbeelde? My opmerking sou wees: Indien ‘n gedig deur een of twee reëls bederf word, kan dit gewoon nie ‘n “skaflike” gedig wees nie. Die digkuns is helaas nie ‘n glyskaal nie: dit is poësie of dit is nie. Daarom is dit ‘n normale reaksie om te probeer verstaan wat dit is waarna Nicolaas verwys.

    Reply
  19. Ryno Appel says:
    4 August 2017 at 16:31

    Nicolaas, jy moet eers aansoek doen vir n permit, as jy ‘n groot digter wil kritiseer. Doen regstreeks aansoek by Kommandant Daniel Hugo van die Afdeling: Kunspolisie, Hoedspruit, Vryespraakfontein

    Daniel, ek het nie my mes in vir jou nie. Maar jy klink darem baie stellerig met die arme Nicolaas.

    Reply
  20. Daniel Hugo says:
    2 August 2017 at 14:07

    En watter re”els sou dit wees, Nicolaas?

    Reply
  21. Nicolaas says:
    2 August 2017 at 13:39

    Soos met vele van sy gedigte, het Breytenbach weer sy gawe bevestig om ‘n skaflike gedig met een of twee reëls te bederf.

    Reply
  22. Waldemar Gouws says:
    19 July 2017 at 21:43

    Mens wil nie vaskyk in die opsommende koda se idiomatiese uitdrukking van ‘n (realistiese?) verloopte liefdesbeskouing nie. Eerder wonder ek oor die twee kringe, kampe in die gedig: eerstens die swerwende troebadoers (van die Occitaanse – met die rug na die Paryse metropool destyds – ‘trobador’vir digter, ook etimologies verwant aan ‘troop’ wat die figuurlike gebruik van taal aandui) en tweedens die publiek, onsigbaar, antagonisties, wat boonop ‘n ander taal besig as dié van die troebadoers.

    Sou mens hierdie twee kringe as komplementêr kon beskou, soos die Jang en die Jin? Of as ‘n voortgesette konstatering van die titel van Breyten Breytenbach se omslagskildery op sy “laaste boek”: “want die lewe is absurd”?

    Ek dink ook aan Remco Campert se strofe in sy bundel “Met man en muis”:

    “onder de donkere vleugels van de poëzie:
    praters in veren, vliegers in dons
    levend en vechtend
    in woorden die ademen doen.”

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies
  • Carla Botha. Lesse in Wêreldreise
  • Stephan du Toit. Moed

Nuutste bydraes

  • Johann Lodewyk Marais. Swartoogtiptol
  • Hennie Maartens. blommeprag
  • Joan Hambidge. Sheila Cussons en die verwikkelde lyn
  • Johann Lodewyk Marais. Seisoen
  • Koos de Wet. Onse Raka

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Joan Hambidge. Sheila Cussons en die verwikkelde lyn17 August 2026

    Marlies Taljard: Johann se Lange het destyds in "Kaapse Paragrawe" soms oor Sheila Cussons geskryf. Sien byvoorbeeld dié onderhoud wat…

  2. Andries Fourie on Andries Fourie. Soos die val van ‘n veer16 August 2026

    Baie dankie Anne-Marie!

  3. Joan Hambidge on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges11 August 2026

    Dank. Albei is wonderbaarlike digters. Ek lees nou weer die hele Cussons en hoe sy Neruda en Borges vir ons…

  4. Mirinda on Krige Visser. lykskou10 August 2026

    Iets wat mens nooit sal vergeet nie....veral wanneer so jonk en sensitief...en die reuke sal mens altyd bybly...

  5. Eugene Vorster on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges10 August 2026

    Beste Professor Hambidge, baie dankie vir hierdie boeiende artikel. Dit inspireer ‘n mens om verder oor Borges & Cussons te…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d