Paul Meeuws – Vertaling in Afrikaans
Paul Meeuws – Vertaal in Afrikaans deur René Bohnen
Uit: Werkplek
Watergraf
Klein watergraf daar in die gras.
Bo dit tril ‘n kindersiel
deur muggies nageboots.
Dan lui opeens die Liempde-klok
die toeval weg net soos jou hand
die muggies wegklap op jou pad.
Jy sit die somer stil soos ‘n kapel
vol nonne en skuins lig.
Jy het ‘n heiligdom gestig,
‘n rou bedink wat die gedig
meer name as jou eie gee.
O kindjie, sluimer sag.
*
Graffiti
Dit sou u nie ontgaan het nie,
die sondvloed lawaaiwater
wat ons stad oorspoel het terwyl ons slaap.
U sou die gesis van slangetaal gehoor het
teen die klimop en ingemesselde glasskerwe
U sou na spelfoute gesoek het
in die kleurvolle slik wat ruite verblind en gewels afplat
tot ‘n besmeerde protesskrif
Ek sien u op ‘n droë seebodem staan en opkyk
na krete wat niemand meer lees nie
na rumoer wat niemand meer hoor nie
onthutste stokou man in ’n rolstoel
U bewasem meer as wat u praat.
Alles skree om u gefluister.
In u gestamel word ‘n muur opgerig
wat smeek om beskrywing,
om hande wat vermom as woorde
na die hoogste lyste reik
en smag na ‘n platdak
waarop ‘n mens kan staan en swaai
na ‘n onbeskryflike verskiet.
**Meer oor die digter hier, op sy eie website: https://paulmeeuws.nl/
Tags: paul meeuws, rené bohnen, de geluiden, nederlands, vertaling
‘n Verrassing! Baie dankie vir “Graffitti” se vertaling in Afrikaans, René. Dis ‘n gedig wat baie ernstig is en aanvoelbaar nog ernstiger word deur die formele “u”-aanspreekvorm daarin. As ek moet raai, gaan dit oor die 1953-dykdeurbraak in Nederland. Tog moet ek in reël 3 ‘n bietjie glimlag vir die woordkeuse “lawaaiwater”. 😉 Hoewel dit natuurlik duidelik is dat dit hiér letterlik oor die oorverdowende lawaai van vloedwater gaan.
Dank voor je complimenteuze woorden, Carina. ‘Lawaaiwater’, daar hebben René en ik het uitvoerig over gehad. In het Nederlands staat er ‘spraakwater’, ik gebruik dat als synoniem van ‘graffiti’, die zondvloed aan tags waarmee de stad overspoeld raakt. Over díe dijkdoorbraak gaat het. ‘Lawaaiwater’ kende ik natuurlijk niet. Ik vind het een Afrikaans juweeltje.
Van die mooiste gedigte en vertalings wat ek nog ooit op Versindaba gelees het. Welgedaan, Rene.
Ek sien u op ‘n droë seebodem staan en opkyk
na krete wat niemand meer lees nie
na rumoer wat niemand meer hoor nie
onthutste stokou man in ’n rolstoel
[dis so ‘n mooi prentjie, Rene! .. en Paul]