
Pablo Neruda. Vertaal in Afrikaans deur De Waal Venter
Ricardo Eliécer Neftalí Reyes Basoalto (12 Julie 1904 – 23 September 1973), het vroeg in sy loopbaan die skrywersnaam Pablo Neruda aangeneem en so is hy aan duisende waarderende lesers bekend.
Hy was ’n Chileense digter, diplomaat en politikus. Op 13-jarige ouderdom het hy begin skryf en het deur die jare verskeie style beoefen vanaf surrealistiese gedigte, geskiedkundige eposse, politieke manifesto’s en hartstogtelike liefdesgedigte. Van sy bekendste gedigte is dié wat opgeneem is in “Twintig liefdesgedigte en ’n wanhoopslied” (1924). In 1971 ontvang hy die Nobelprys vir Letterkunde. In die vyftigerjare het Neruda besluit om gedigte in eenvoudige taal te skryf oor alledaagse dinge soos ’n tuna in die mark, die tamatie en die ui. Hy het dit bedoel vir die gewone mense wat nie juis lief was om ingewikkelde poësie te lees nie. Hier is sy “Ode aan die ui”.
Oda a la cebolla
Pablo Neruda
Cebolla,
luminosa redoma,
pétalo a pétalo
se formó tu hermosura,
escamas de crystal te acrecentaron
y en el secreto de la tierra oscura
se redondeó tu vientre de rocío.
Ode aan die ui
Ui
glansende fles,
uieblaar op uieblaar
is jou skoonheid gevorm,
kristallae het jou uitgebou
en in die geheime donker aarde
het jou buik rond geword van dou.
Onder die aarde
het die wonder gebeur
en toe jou lomp
groen stengel verskyn het,
en jou blare
gebore is soos swaarde in die groentetuin,
het die aarde sy kragte saamgetrek
om jou naakte deursigtigheid te wys,
en soos die verre see
Aphrodite se borste lig
en ‘n magnolia naboots,
het die aarde
jou gemaak,
ui,
helder soos ‘n planeet,
en bestem
om te skyn,
konstante konstellasie,
ronde roos van water,
op
die tafel
van arm mense.
Gulhartig
gee jy
jou bol van varsheid oor
in vurige voldoening
aan die kookpot,
en die kristalring
word in die vlammende hitte van die olie
vervorm tot ‘n gekrulde goue veer.
Weer onthou ek hoe vrugbaar
jou invloed is op die liefde van die slaai
en dit lyk of die lug bydra
om jou die fyn vorm van hael te gee
en jou gekapte helderheid te vier
op die rondheid van ‘n tamatie.
Maar binne bereik
van die mense se hande,
besprinkel met olie,
bepoeier
met ‘n knippie sout
stil jy die honger
van arbeiders op die harde pad.
Ster van die armes,
towertante
toegedraai
in delikate
papier, staan jy op uit die grond,
ewig, ongeskonde, suiwer
soos die saad van ‘n ster,
en terwyl jy opgekap word,
sal die kombuismes
‘n enkele traan voortbring
sonder pyn.
Jy laat ons huil maar maak nie seer nie.
Ek het alles wat bestaan gevier, ui,
maar vir my
is jy pragtiger as ‘n voël
met glansende vere,
in my oë is jy
‘n hemelse bol, ‘n platina beker,
‘n onbeweeglike dans
van ‘n sneeubedekte anemoon
en die geur van die aarde
leef in jou kristal-wese.
Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

Dis nou vir jou ‘n insiggewende greep uit die Yslandse roman, Elizabeth! Ek glo nie ek raak geamuseerd wanneer ek verkeerd is nie. (En dit gebeur nogal af en toe 🙂 … goed, goed … nogal dikwels …
Wat ‘n voorreg, De Waal, om jou (so nuwe) vertaling van Neruda se aartappelskyfie-gedig hier te kan lees. Baie dankie! Die waarde én waardigheid van die aartappel is hierdeur so bevestig. Tjips gebraai in olyfolie is onbekend aan my tong.
Ek is jaloers op die Britse “French fried potatoes,” die Amerikaanse “French fries” en die informele “chip(-s)” soos in “fish-and-chip shop.”
“Patates frites” val erger op my oor as ons eie aartappelskyfies.
Register is ‘n turksvy.
Regstelling: À la recherche du temps perdu. … nogal ‘n hele ding aan die gang gesit …
De Waal, ‘n nagedagte oor “reg” of “verkeerd” wees hierdie besondere insig:
Ole Worm, na ontdekking in die vroeg 17de eeu dat sy gekoesterde juweel van ‘n kosbare en skaars eenhoring-horing niks anders as ‘n narwal-tand of “stootpen” (Van Wyk Louw in sy narwal-gedig in TRISTIA) was nie:
“die meester se brullende gelag was ‘n teken dat hy ‘n merkwaardige vonds gemaak het. Worm was so ‘n onvermoeibare navorser dat hy nooit meer geamuseerd was as wanneer hy ontdek het dat hy verkeerd was nie”
[uit Sjon se Yslandse roman,
FROM THE MOUTH OF THE WHALE, 2008;
Engelse vertaling deur Victoria Cribb, 2011]
Marcel Proust het met sy “À la recherche du tempts perdu” noal ‘n hele ding aan die gang gesit, nie waar nie, Waldemar. Voor hom het digters seker ook geskryf oor die mag van reuke om die geheue te prikkel, maar seker nog nooit so meevoerend soos die Fansman nie.
Goed, ek voldoen aan jou versoek oor die vertaling van die Aartappelskyfie Ode en ek plaas dit hieronder. Ek publiseer ‘n hele paar van sy odes in my bundel Neruda-vertalings wat hopelik in Mei sal verskyn, maar hierdie een is ongelukkig nie daarin opgeneem nie.
Vraag: Sou mens so plat kon wees om die titel van hierdie ode “Ode aan slaptjips” te maak? Of is dit te dik vir ‘n daalder?
ODA A LAS PAPAS FRITAS
Pablo Neruda
Chisporrotea en
el aceite
hirviendo la
alegría
del mundo:
.
Ode aan aartappelskyfies
Sissend
in die borrelende
olie,
die vreugde
van die aarde,
gaan die skyfies
die kastrol
binne
soos vallende sneeu
vere
van oggendswane
en kom
uit
amper goudkleurig
langs die olywe
se knetterende
amber.
Knoffel
versterk
hulle aardse
geur,
en peper
wat oor die riwwe aangekom het
en aangetrek
in nuwe
ivoorbaadjies,
die skyfies vul die bord
met hulle onuitputlike oorvloed
en hulle heerlike aardse eenvoud.
…
Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter
De Waal, uiteindelik by kos gekom (alhoewel nie Proustiaans by wyse van jou onwillekeurige geheue nie). Is jy nie dalk lus vir (die vertaling van) Neruda se “Ode aan aartappelskyfies/slap tjips” (Oda a las papas fritas) nie?
Almal wat hier boer of besoek aflê, moet ook van brood leef!
Hallo Trienke, ja. As mens begin praat van geure en reuke kan mens nie anders as om te dink aan die ikoniese gedig “Sproeireën” nie.
In 2010 het Margaret Bakkes se jeugroman “My ouma in kaneel’ die lig gesien. Suzanne Potgieter het o.a. in haar resensie die volgende te sê gehad:
“Die spreker in Opperman se gedig koppel sekere geure aan vroue, onder andere aan die beminde en die ouma. Terselfdertyd neem die reuk van die nartjieskil se “sproeireën” hom terug na ’n spesifieke tyd en ruimte. Geure soos Stella-olie, Tokalonroom en die reuk van ’n kerspit herinner Magriet ook aan haar ouma (9). Dit is dié vertroude, vertroostende reuke wat Magriet werklik tuis laat voel, “die bekende geure van die tuin en van die huis en van haar ouma se lyf [wat] haar verseker dat sy terug is, by mense en op die plek waar sy die heel graagste wil wees” (42).
Dankie De Waal Venter en Helize,
Ek het assosiatief ook aan George Weideman se “Groente met ‘n Klankie” gedink an Opperman wat “Rooi-aas op Franskraal” aanspreek- Breytenbach en Verster wat liries raak oor aardse pampoene…
Hallo Helize
Jou geheue verraai jou nie. Daardie klippie en bokkie is net so in “Klipwerk”.
Iets wat ek bewonder aan vroue is dat hulle in die algemeen blykbaar meer geneig is om te erken dat hulle verkeerd is, wanneer hulle meen dat hulle verkeerd is. In my ervaring is mans in die algemeen minder bereid daartoe. My vrou beweer ek val ook in daardie kategorie!
Maar ek het nie gedag dat jy so danig ondeurdag was in jou vorige kommentaar nie. Ek herkou nou nog daaraan.
Hallo Helize
Neruda het dikwels in sy verse teenstellings met lewende en nie-lewende dinge gebruik. Hy was byvoorbeeld baie lief vir die see en hy het ‘n reeks gedigte geskryf waarin hy Suid-Amerikaanse riviere geapostrofeer het. In sy beroemde Alturas de Macchu Picchu het hy juis baie klem gelê op klip. Daardie klippe wat die slawe en arbeiders so moeisaam opgedra het na die hoogtes om die mure van die paleise te bou.
Waar Wyk Louw in Klipwerk verse gemaak het wat hy omtrent uit die volk se mond gehoor het; aards, oënskynlik eenvoudig, maar veelduidig as jy dieper begin kyk, het hy met sy Beiteltjie ‘n gedig oor klip geskryf wat om ‘n metafoor gebou is. Teenoor die heel kleine turksnaald-plantjie, het ons hier te doen met ‘n grootse splitsing van die planeet. Van klip-pié tot KLIP.
Mooi!
“ Teenoor die heel kleine turksnaald-plantjie, het ons hier te doen met ‘n grootse splitsing van die planeet. Van klip-pié tot KLIP.“
ook: “n wit klippie, bokkie, en hy stink nie”
(as my geheue my nie verraai nie)
ek trek my ondeurdagte gekarring in tweede kommentaar terug!
Natuurlik het jy reg. Soos ook al in die Klipwerk-openingsalvo:
dat akkers op die sinkdak val
en vye op die ringmuur breek
“Puur natuur…” op skrif, met ‘n digter as lens en filter? Vir Helize van Vuuren wil ek aanhaal uit die titelblad van Opperman se “Komas uit ‘n bamboesstok” (1979):
“… aantekeninge oor die natuurlike geografie rakende die ooreenkoms van die aardkloot met die sfere mineralies vegetaties en dieraties, amoreus, apokrief, biografies, boertig medisinaal, retories en volgens die beurs”.
Sou Van Wyk Louw die konsep “puur natuur” kon koester en dus uitdrukking daaraan wou gee?
Maar ek is bevrees jou teenstelling van organiese en harde elemente hou nie steek vir “Klipwerk” nie (oor Neruda se verse kan ek nie oordeel nie) :
spirale van die saaddraende plantjie is hier ‘n verwysing na harde grond. Onder die pienk horlosie-blom (ook “vrouebossies” en “crane’s bill”) genoem in Burman en Bean se Hottentots-Holland tot Hermanus-boek, word die Erodium incarnatum beskryf: “Kom op klipperige heuwels in die distrikte Caledon, Worcester en Robertson voor, gewoonlik in digte ondergroei of onder bossies (Aug-Nov).”, 1985:118. Louw se “klip” is dus ‘n verwysing na sand gemeng met klippers – klipperige grond, maar vatbaar vir ontkieming van die horlosie-blom se saad via die in-spiraalvorm-gekrulde, grondwaarts geneigde, saaddraende spriete…
Als dus organies, wat hier gebeur in die natuur. Puur natuur…
De Waal, Sopas ‘n lieflik-loflike “Klipwerk” vonds danksy die WAT aanlyn – via jou aanhaling van die botterboom-en-turksnaaldvers met sy enigmatiese blouplani wat so “in die klip in” slaan. turksvyplante dra na my beste wete nie blou blomme nie. En daar is dit: onder “klokkie”, ‘n horlosie-blommetjie wat op klamte (“waterdamp”) reageer met besonderse plantgedrag “om die saad so in die grond te boor” (‘n eggo in die botaniese beskrywing van die turksnaald se aard na “Die dye trek die tye aan”:
die eensaam saad die soek sy voor
die lig wil in die netvlies boor
…
…als verlang
na heelal en na samehang
(Nuwe verse, 1954:8)
TURKSNAALD (-NAELS)
Vrug van die muskuskruid Erodium moschatum (fam. Geraniaceae), bestaande uit vyf dele wat wegbreek van die as, elke deel met ‘n blywende stertjie en wat, by die absorbering van waterdamp, soos ‘n wyser van ‘n klok (horlosie) draai om die saad so in die grond te boor; horlosie (gewoonlik in die meervoud), draaiorreltjie, turksnael (gewoonlik in die meervoud).
(WAT aanlyn: onder lemma “klokkie”)
Jy het die saak baie mooi raakgevat, Waldemar. Lesers wat nie Spaans ken of lees nie, kan baie groot baat vind by die Neruda-vertalings. Dit bring hierdie groot digter se werk nader en meer verstaanbaar vir die Afrikaanse leser.
Terloops, die term “Afrikaans” en “Afrikaner” bly maar ‘n moeilike begrip in ons tyd. Wanneer ek die woord “Afrikaanse leser” gebruik, bedoel ek enigiemand wat Afrikaans lees, selfs mense wat Afrikaans as tweede of derde taal lees.
De Waal, soos wat Prometheus (“vóórdenker”) ‘n vriend van die mensdom was/is teen Zeus se tirannie, is jy as vertaler ook ‘n vriend van die mensdom – teen die beperkinge van die meeste van ons se onbekendheid met en/of onvaardigheid in die lees van ander tale se letterkundes, behalwe nou vir ons kommersiële vlotterigheid in Engels.
Dankie, en groete.
Dankie Charl-Pierre. Ek dink ons mik so na Meimaand vir die publikasie. Ek sal groot lawaai maak sodra die bundel verskyn!
“Towertante” is weer vir my ‘n absolute treffer. De Waal, baie sterkte met die publikasie, ek sien uit!
Hallo Waldemar
Afrikaans laat darem reg geskied aan Neruda se aardse poësie, nie waar nie?
Ek stem met jou saam dat “towertante” nie naastenby die Spaanse sonoriteit kan nadoen nie. Die vertaler moet maar probeer kompenseer wanneer hy vertaal – probeer om ander taal- en klankwendinge in te span om die segging in die gedig te versterk.
Miskien kan die volgende reël (14) in die gedig iets daarvan sê:
In Spaans het ons weer die “swaar” en sonore “o” en “u”.
“la tierra acumuló su poderío”
Soos jy blykbaar weet, word die “u” in Spaans ’n sterk “oe” in Afrikaans. Die “i” in hierdie reël word ook beklemtoon om nog meer diepklank aan die reël te gee. Die “o” is nie ’n diftong “o-e” soos in Afrikaans nie, maar ’n kort, sterk “ô”.
In Afrikaans het ek die wapen uit my arsenaal gehaal wat minder sterk in die Romaanse tale voorkom: die gutterale “g”.
Die Afrikaanse reël span die krakende “k”, die rollende “r” en die bruisende “g” in om die idee van die aarde en die magte daarin vervat, weer te gee: (Daar is natuurlik woorde soos “jota” en “juntar”. Maar as mens kyk na ’n woordeboek, lyk dit of daar nie so baie woorde in Spaans is wat met “j” begin nie.)
Die Afrikaanse reël:
“die aarde (het) sy kragte saamgetrek”
’n Vertaler is gelukkig wanneer hy taalinstrumente in die hande kan kry om idees uit ’n ander taal op ’n taalgetroue manier weer te gee.
Groetnis
Baie dankie, De Waal, vir hierdie elementaal-wonderlike ui-ode in ons taal. Jou keuse in strofe 3 van “towertante” vir Neruda se “hada madrina” (‘n fee-peetma) staan klankmatig effens terug vir die sonore vier a’s en twee d’s in die oorspronklike. Tog vul jou “towertante” ‘n leemte in ons hoofsaaklik sprokiesfiguurarme 21ste eeu.
Hallo Helize
Dis lekker om te weet die klein inleiding was nuttig vir jou. Ek dink baie mense deel jou begrip van die Canto General se “oerdorheid”. My ervaring is egter anders. Ek het ’n verteenwoordigende reeks gedigte van Neruda uit Spaans vertaal en die bundel is tans “in produksie” in die hande van my uitgewer. In die bundel is die twaalf canto’s van “Alturas de Macchu Picchu” opgeneem. Ek het toeligting by elkeen van die canto’s geskryf omdat ek dink dat die gedigte vir baie lesers moeilik toegangklik is.
By canto II het ek o.a. geskryf:
Reg deur die gedig vind mens gedurig teenstellings van lewende en dooie dinge: metale en kristalle teenoor rooi papawers en geel graan.
Hier is ’n paar reëls uit die canto wat dui op wat ek opgemerk het:
Hoogtes van Macchu Picchu II
(Dit wat in graan soos ’n geel verhaal
van klein swanger borsies sy getal
oneindig vermeerder, teer in hulle saaddoppe,
en wat, altyd identies, tot marmer afgedop word
en wat in die water ’n helder tuisland is, ’n klok
vanaf afgesonderde sneeu tot bebloede golwe.)
Vir my is dit besonder treffend dat die “teer” saad in hulle saaddoppe, afgedop word tot dit wit is soos marmer. Skielik is die lewende saad vergelykbaar met die “edel klip”, naamlik marmer.
En dan doem Wyk Louw se Klipwerk-verse op:
Uit: Klipwerk
meisie meisie meisiekind
die botterboom is glad en glip
die turksnaald blom al weer só
sy blou slaan in die klip in
Die “teer” blou blom van die turksnaald (turksvy?) het ’n taai wortel wat “inslaan” in die klip. Hier, soos in Neruda se gedig, die verhouding tussen die lewende plant en die klip.
Om jou vraag te beantwoord oor die skryf van verse wat vir die gewone mense toeganklik is:
Neruda het hierdie odes vroeg in 1950 begin geskryf en hulle gebundel in
Odas elementales in 1954. Later het hy ook Nuevas odas elementales in 1956 en Tercer libro de las odas in 1957 gepubliseer.
Daar is soveel interessanthede om oor te skryf wat die odes betref, byvoorbeeld sy ode aan die beroemde Franse digter Jean Arthur Rimbaud, vir wie hy groot bewondering gehad het. Maar ek sal hierby volstaan.
Dankie, De Waal – ‘n flits-insig, jou klein inleiding vir wat tot nou vir my onoorsigtelik en onverstaanbaar was aan Neruda se oeuvre met sy verskillende style en onderwerpe. Die toeganklikheid van 1924 se Twintig liefdesverse en die canto van uitsigloosheid teenoor die baksteendikke Canto Generale se oerdorre politieke onderwerpe. En jou kensketsing van Neruda en sy beweegredes is ook verhelderend vir NP van Wyk Louw, en sy “Klipwerk” uit 1954 – midde in die omringende intellektualiteit en hoge erns van ander werk in sy oeuvre.
Watter datum in die vyftigerjare presies, en met watter bundel of reeks verse het Neruda “gedigte in eenvoudige taal” begin skryf “oor alledaagse dinge”? Klink na ‘n tipering van “Klipwerk”. net so…