Klein ballade vanuit ʼn veetrok
(Op Vryheidsdag, 27 April 2019)
Hoe lank sit jy al hier op die sylyn
by Holfontein se stasie duskant Kroonstad
in ʼn veetrok toegespyker,
hoe lank al saam met soveel ander
ingehok tussen die saagsels, skewe karton
en strooihalms met
ʼn holte
in die middel van die plankvloer
vir ekskrement terwyl julle wagtende bly
op die Führer se vlagbekroonde trein
om volgens afspraak
ook hier tussen die gatsrante deur
te snel?
: Glo onderweg na sy hiér kiep-kiep,
dáár kiep-kiep, woerts
weer weg.
Koperbruin die dag, blinkswart die klip
toe oplaas die bewimpelde lokomotief digby
jul eenkantkompartement
verby klop-klop, tot sug. Vir ʼn wyle vertoef
om kool en water in te neem
hier by Holfontein se lafenis duskant
ʼn eie Valsrivier.
: En jy, op die sylyn in ʼn veetrok,
kry ʼn loergat. Kyk,
sien!
Armlengte van jou, die Führer
in sy ruit, geklee in rooi werkerspak
en baret, eien jou oog
deur die opening tussen plank
en spykers: rig die dageinde rooier as ʼn roos
in sy kristal wynglas
op jóú
terwyl hy met sy regterduimnael ʼn snylyn kerf
oor sy keel hier in naasliggende treine
op ʼn halfvergete sylyn
êrens in ʼn uitgedroogde Vrystaat-
vlakte.
Eers wil jy knak, maar toe die Führer ruk-ruk
buite raam skuif namate sy befaamde
vorentoe, duisel jy, want hierdie teenoorstel-
lende beweging van naaslig-
gende: beweeg julle as gesylyndes
of die ander?
Eindelaas klepel twee trekke die fluit
en een van twee lokomotiewe blaas sy stoom
in ʼn bolling spoorlangs, dryf
naas jou verby en jy meteens sien
tussen klip en
staal
ʼn enkele kosmosblom pienkverleë
te midde van soveel beweging
na alkante
toe –
: En hoe lank, hoe lank anker dáárdie blom
jou nou hier steeds op Holfontein
se sylyn aan die duskant waar die dag
bruin soos koper is
en blinknat
die gekettingde klip
om
stofbevlekte grafte in ʼn marmerraam
waar eens die buurt
se uitgediende slagpaal was.
(c) Louis Esterhuizen / April 2019
Beste Louis, deur die werkbare sekulêre lens, onder andere, en as fokus die kollektiewe Afrikaanse eskatologie op die spits van ‘n renaissance van die buurt se slagpale – móét jy nou fataal soontoe mik?
Kan jy dalk, met ‘n kleiner of groter ballade, uiting gee aan ‘n individuele die-bliksem-in-wees rakende die noodlot?
Groete
Waldemar
Heelwat pakkende inligting hierin verpak, Louis. Die samevloeiing (conflation) van die Nazi-gruwels met ons Suid-Afrikaanse verlede en potensiaal ewe skrikwekkende hede. Hier het jy vir ons ‘n voorbeeld gegee van hoe poësie relevante kommentaar kan lewer op huidige gebeure en toestande. Moet ‘n digter standpunt inneem, Wagneriaans Nazi-neigend, of altyd heeltemal buite die kroeggeveg bly? Pablo Neruda het gesê, nee, ek klim in en baklei met alles wat ek het. Sy werk staan soos ‘n wapperende vlag vir dink en doen wat jy as reg beskou. En toe vergiftig hulle hom tot die dood.