Oorgang
Op die hoek van strate staan jy
die robot jou trae metgesel groengeelrooi
jy soek iets tussenin
op die hoek van strate waar jy
tussendeur verkeer toeters blinknat staal
soek na lappies groen
vir die bus wat stilstand bring
by die halte wat nie meer is waar jy hier
op alle hoeke huiwer
in die sirkel van ʼn skerpskutter se visier
met die kruispunt se skryfsel
gefokus op jou oog –
dáár: die kontak tussen wysvinger
en sneller,
in daardie hemelse oomblik leef jy
as die somtotaal van hoeke
en strate
met iets tussenin.
Asof dit genade is.
(c) Louis Esterhuizen / Julie 2018
Skerp gedig, Louis. In die sin van skerp emosionele impak en skerp vervlegting van verskeie liggings en posionering van die spreker/waarnemer in die gedig. Die “hoekigheid” van die gedig gee die leser nie kans om te ontspan met die lees nie, hy moet gdurig sy perspektiewe dophou om uit te vind waar hy nou eintlik is en waarheen die gedig hom neem.