Girivana
Nasionale Krugerwildtuin
Jaar na jaar, dagin, daguit, tuimel
en swik golwe kwelea’s oor ’n krip
waar die egpaar Kay veertig jaar gelede
in verwondering na daardie ewigheid sou sit
en staar, moontlik onder die trosvy
met beskuit en tee die stilte indrink –
luister na wespe tussen soetsuur vruggies
en besluit om juis dáár ’n windpomp
te skenk, waar hierdie reisiger onverwags
’n koperplaatjie van erkenning
teen ’n stomp gewaar, nouliks die woorde
kon uitmaak soos wat groenspaan jaar na jaar,
dagin, daguit aan vergetelheid stroop.
.
© Eunice Basson / 2019