STILSKRYF FRAGMENTE
« And yet we go on living closed lives, pretending we are not each personally responsible for
the deaths we buy and sell. We go on living our sheltered lives among the potted plants
and automobiles and advertising slogans. We don’t want to know what the world is like,
we can’t bear very much reality. » Sam Hamill, A Poet’s Work
*
poësie, my lankmoedige leser,
is ‘n gebaar van rillende gewaar
wording in die rigting vanwaar
stilte vir oulaas gewaar is
*
(maar begrip is slegs vibrasie
van die klepklier
die lier van klip
wat verstand genoem word
wanneer die plons van verplasing tussen ons
rimpelend uitkring
om in die poel
van nieweetnie te sink :
die lippe se sê is sêsand
daardie oorgangsbeweging
tussen bestaan en niebestaan
waar verstand soos sand nie kan tel nie
is ‘n galming van lig se anderwoordlied
in andersworddonkerte se gebied)
*
poësie helaas is ‘n daad van geloof
per definisie slegs oordraagbaar
van my hart tot joune
om daar soos die woordsprekende padda
wat maak of sy ‘n haas is
in die oond uit te doof
*
*
(die voëlverskrikker)
jy vra of daar ‘n lyn is
soos ‘n kwyldraad deur die digterslewe ?
dalk tog. of soveel so
dat ek nie weet of dit ‘n geheue aan self
sou wees
of die tou wat so bewe (en sing)
waaraan wat ek is
my opgehys het om in die hemel te kom
vir die gaan-verstaan van die maan se dinge
en nou bly hang
om mummiedroog te word
en te draai
te draai in die donker wind
se binnensmondse woordverslinding
of is daar ‘n verskil in die murmeling ?
*
maannaamnalaatsels
*
ons deel hierdie aardbol
rol in die ruimtestof
blaf geluidloos hondsdol
vir die niet. soek bedoeling
byt mekaar dood
soek liefde soek kos
word groot en siek
en onderdanig baklei
vir vryheid. droom
verloor ons drome verloor
die belewenis van die wêreld
versaak die lig. verloor ons sin
blaf geluidloos hondsdol
tol in die ruimtehol. stol
tot woordstof oor hierdie aardbol
*
poësie, ek sê
is om met geslote mond
al die variasies op ‘n niebestaande tema
te sing as enigste uiting
wat ons met die onkenbare
in gemeen mag beding
*
want poësie, leser, word gebaar
in rillende gewaarwording
van die rigting vanwaar
jou stilte vir oulaas
gewaar is
voordat woorde
dit soek-soek doekvoet agterhaal
en ingeloop
beroof van alle geloofwaardigheid
*
en om dood te gaan
bietjie-bietjie maar kort-kort
die verrottende wond te lek
en met die laaste besittings
papier, dans-partituur, klip toegedraai
in lap in ‘n kissie ingespit verword
hier en daar en elders orals waar
of wanneer die tyd op hande is
jy lankal gewoond geraak
vergete al vergeet het
hoe om sterwend te moes lewe
sodat geen dood jou
ooit soos ‘n haan
weer op hol sal kan jaag
*
en gedig dan ?
is die woordweerskyning
van die verdwynende gesig
hier in die papier ?
.
[© breyten breytenbach. 2019]
Veels geluk met die verjaardag, Breyten! Mag dit gaan soos wat Sebald oor een van sy personasies geskryf het: vir hom het sekere momente geen begin of einde gehad nie.
Ons is baie gelukkig om dankie te kan sê vir die werke van jou hande (wat hul eie lewe gekry het). Van werk kan niemand – of dit Adorno is of ander – jou iets vertel nie.
Klee se woorde uit 1928 is toepaslik: “My hand is geheel en al die instrument van ‘n verder-verwyderde sfeer.”
Groete van al wat leef en beef (en lees) in die Overberg.
Waldemar
“die lier van klip
wat verstand genoem word”
Pragtig vir my!
“die woordweerskyning
van die verdwynende gesig”
Praat ook boekdele met my!
poësie, ek sê
is om met geslote mond
al die variasies op ‘n niebestaande tema
te sing –
Inderdaad so. ‘n Aangrypende gedig.