Traduttore, Traditore!
’n Verantwoording van die vertaling van Pablo Neruda in Afrikaans
Traduttore, Traditore! Die vertaler is ’n verraaier! Hierdie bekende gesegde het êrens in die sestiende eeu ontstaan en sedertdien het seker elkeen wat ’n vertaler was, en is, kennis geneem hiervan. Hoekom “verraai”?
Die meeste vertalers en mense wat oor vertaling besin, aanvaar dit dat geen vertaling ’n presiese weergawe kan wees van die bronteks nie. Die ekwivalente van woorde in brontaal en teikentaal stem nooit een honderd persent ooreen nie. Daar is verskille in gevoelswaardes, konnotasies, verstaanbaarheid en ander eienskappe.
Sy het ander oë in Afrikaans
Met die vertaling van Pablo Neruda se gedigte wat gepubliseer is in die bundel “Vandag is boordensvol”1 het ek dikwels gedink aan die “traditore”-aspek van wat ek besig was om te doen. Een van Neruda se bekendste gedigte is “Puedo Escribir Los Versos …”2 . Ek het die titel soos volg vertaal: “Ek kan vanaand die weemoedigste verse skryf”.
In die sesde strofe kom die volgende reël voor:
“Cómo no haber amado sus grandes ojos fijos.”
Die vertaling uit “Vandag is boordensvol”:
“Hoe kon ek nie haar groot rustige oë liefgehad het nie.”
Laat ons eerstens kyk na die frase “ojos fijos”.
Ek dink dit kan met reg gesê word dat daar min (indien enige) woorde in ’n taal bestaan wat net een betekenis het – wat geen ander bybetekenisse of konnotasies het nie.
In die woordeboek “Diccionarios” kry mens die volgende betekenisse vir die woord “fijos”: “fixed, fastened, firm, steady, stable, secure, regular”.
Die gedig, soos die titel aandui, het ’n atmosfeer van weemoed, van verlange, ’n mate van wanhoop en smart. Om die frase: “Cómo no haber amado sus grandes ojos fijos” bevredigend in Afrikaans te vertaal, kon ek nie op die letterlike weergawes van die woord “fijos” staatmaak nie. “Vaste oë” of “ferm oë” of iets dergeliks sou geheel en al nie reg aan die gedig laat geskied het nie.
My keuse was dus “rustige oë” wat na my mening goed inpas in die gevoelsfeer van die gedig. As mens dit mooi beskou, is “rustig” dan ook nie te ver van “fijos” se betekenisse nie. Rustige oë kyk nie vinnig rond of knip senuweaagtig nie. Hulle kyk taamlik vas in een rigting, stewig op een plek.
Die vertaling is hier dus “verraad” in die sin dat dit nie een van die letterlike betekenisse van “fijos” ingespan het nie, maar ’n verlangs verwante woord om sodoende hopelik weer te gee wat die digter se waarskynlike bedoeling was.
Neruda se gedigte is in meer as vyftig tale vertaal, onder andere in Engels. En dan is daar ook ’n hele paar verskillende vertalings van sy gedigte in een taal. ’n Engelse vertaler het die frase so weergegee: “How could one not have loved her great still eyes.”3
Hierdie vertaler het ook nie een van die letterlike betekenisse van “fijos” gebruik nie, maar eerder “still”. Dit is nogal nie te ver van “rustige” nie. ’n Nederlandse vertaling is amper identies: “Hoe zou ik niet gehouden hebben van haar grote, stille ogen.”4
Maar in ’n Duitse vertaling het die vertaler ’n heeltemal ander koers gekies:
“Wie denn nicht lieben ihre großen, sicheren Augen.”5
Letterlike betekenisse van “sicher” is onder andere: “certain, secure, safe” en die uitdrukking “eine sichere Hand” beteken “a steady hand; a sure hand”.
Dit lyk amper of die Duitse en Franse vertalers kop in een mus was, want die Franse weergawe is soos volg: “Comment n’aimerait-on pas ses grands yeux fixes.”6
Die Franse woord “fixes” se letterlike betekenisse is onder andere: “to fix, to fasten, to set, to stare at, to focus on”.
Die Franse en Duitse vertalers het dus besluit om nie “verraaiers” te wees met die bespreekte woord nie, maar eerder “getrou” te bly aan wat hulle gemeen het Neruda bedoel het. Die Nederlandse, Engelse en Afrikaanse vertalers het gevoel dat die letterlike vertaling van die woord nie geskik is nie en het elkeen sy eie vertolking daarvan gegee om te pas in die gedig se toonaard en gevoelswêreld.
Hierdie proses speel af in byna elke versreël in elkeen van die vertaalde gedigte in “Vandag is boordensvol”. Die vertaler moet rekening daarmee hou dat baie (dalk die meeste?) van die mense wat sy vertaalde gedigte lees, nie die bronteks kan lees nie. Hy het dus die dure plig om so goed as moontlik die bronteks om te skep in ’n literêre kunswerk wat die leser ’n goeie idee kan gee van die voortreflikheid van die oorspronklike teks. So gesien, is die vertaler juis nie ’n verraaier nie, maar getroue ondersteuner van die oorspronklike digter.
Daar is nie “peasants” in Afrikaans nie
In haar boek “Translation and Translation Studies: Introduction to Translation” (2001) stip professor Amparo Hurtado Albir7, ’n leidende vertaaldeskundige, vyf belangrike vertalingsbeginsels aan. Een van hulle is “Anpassing” (Adaptation).
Prof. Albir beskryf dit as “’n tegniek waarvolgens een kulturele element vervang word deur ’n ander een wat tipies is van die ontvanger-kultuur. Die belangrikste aspek hiervan is die eintlike betekenis van die boodskap eerder as die woorde wat dit uitspel.”
Die gedig “Cuerpo de mujer” het ek vertaal as “Lyf van ’n vrou” (p. 3). Dit is een van Neruda se vroeë hartstogtelike, erotiese liefdesgedigte. Reël drie lui so in Spaans: “Mi cuerpo de labriego salvaje te socava”.
’n Engelse vertaling gee: “My rough peasant’s body digs in you”.
Die “peasant” hier is die Spaanse “labriego”. Dit is taamlik akkuraat wat Neruda hier bedoel het. Hy het hom dikwels vereenselwig met die gewone arbeider, die handlanger, die peasant van Chile. Lees gerus die reeks “Alturas de Macchu Picchu” in “Vandag is boordensvol”.
Ek het egter gevoel dat “arbeider” in die Afrikaanse konteks nie die beste gevoelswaarde sou hê nie. Die “labriego” van Neruda word goed beskryf as ’n “peasant”. Maar so ’n klas bestaan nie in Suid-Afrika nie. My keuse was dus: “My wilde boerelyf ploeg deur jou”.
Die woord “boerelyf” het in Afrikaans na my mening presies die regte gevoelswaarde. Nou ervaar die leser die hartstog van ’n aardse minnaar, eerder as die twyfelagtige ruheid van ’n “arbeider”.
Maar die Nederlandse vertaler behou die “arbeider”. In Frans beteken “laboureur” iets soos “ploegman”, d.w.s. iemand wat in die boerderybedryf is. Dit het egter nie die ekstra konnotasie van ’n volksman, ’n trotse Suid-Afrikaner, wat die Afrikaanse woord “boer” inhou nie.
Nederlands: “Het lichaam van mijn wilde arbeider ondermijnt jou”.8
Frans: “Mon corps de laboureur sauvage, de son soc”.9
Die “Aanpassingstegniek” van prof. Albir is dus hier “arbeider” wat iets anders word in die Afrikaanse vertaling om na die vertaler se mening reg te laat geskied aan die gees van die gedig.
Leen my asseblief ’n paar woorde
’n Ander vertaaltegniek wat prof. Albir uitsonder, is “Leen”ibid (Borrowing), d.w.s. om woorde en uitdrukkings in ’n ander taal onveranderd in die teikenteks te gebruik. Sy stel dit so:
“Using a word or an expression in the original text and placing it as it is, with no modification, in the target text. This can be an expression taken from a third language (e.g., Latin), or a familiar expression by speakers of the target language, or even an untranslatable expression which is not worth explaining.”
’n voorbeeld hiervan is in die gedig “La United Fruit Co.” wat ek weergee as “Die United Fruit Co.” Neruda vertaal nie die Engelse titel van die maatskappy nie omdat hy dit wou weergee soos dit in werklikheid sou kon bestaan.
Die Afrikaanse vertaling doen presies dieselfde. Ander onvertaalde woorde in die gedig is: “Coca-Cola Inc., Anaconda, Ford Motors”. Daar is ook “Banana Republieke”. Neruda gebruik die Spaanse weergawe van die “United Fruit Co.” (la Compañía Frutera Inc.) in die gedig, waarskynlik om dit meer verstaanbaar te maak vir Spaanse lesers. Hy laat egter die “united” uit. Ek het hierdie skryfwyse in die Afrikaanse vertaling netso gevolg.
Jy kan poësie vertaal, jy kan poësie nie vertaal nie.
Dante Alighieri (1265 – 1321) het beweer dat alle poësie onvertaalbaar is, terwyl Yves Bonnefoy meen dat jy kan vertaal deur eenvoudig een gedig as vertaling van die ander te verklaar (1991:186-192). Robert Frost se mening is algemeen bekend: Poësie is dit wat verlore gegaan het in vertaling. Nabokov (1955) het gesê: “The clumsiest of literal translation is a thousand times more useful than prettiest of paraphrase”.
Die spektrum van vertalingsbenaderings strek dus enersyds van “onvertaalbaar” tot volkome vertaalbaar, en andersyds van “feitlik letterlik getrou” tot “vry en selfs herskrywing. My benadering tot vertaling is waarskynlik naby die middelpunt van albei spektra.
Ek noem een voorbeeld. Dit is die gedig “Ausencia” wat ek volledig in Spaans aanbied en daarna die Afrikaanse weergawe. Lesers wat wil, kan dan die twee volledig vergelyk.
Ausencia
Apenas te he dejado,
vas en mi, cristalina
o temblorosa,
o inquieta, herida por mi mismo
o colmada de amor, como cuando tus ojos
se cierran sobre el don de la vida
que sin cesar te entrego.
Amor mio,
nos hemos encontrado
sedientos y nos hemos
bebido toda el agua y la sangre,
nos encontramos
con hambre
y nos mordimos
como el fuego muerde,
dejandonos heridos.
Pero esperame
guardame tu dulzura.
Yo te dare tambien
una rosa.
Afwesigheid
Skaars is ek weg van jou,
of jy gaan my binne, deursigtig
of sidderend,
of rusteloos, verwond deur my
of gevul met liefde, soos wanneer jou oë toegaan op die geskenk van die lewe
wat ek jou aanhoudend gee.
My liefling,
ons het mekaar dorstig gevind, en ons
het al die water en bloed gedrink, ons het mekaar gevind
met honger
en ons het mekaar gebyt
soos vuur byt
wat wonde in ons agterlaat.
Maar wag vir my,
hou jou lieflikheid vir my. Ek sal vir jou
ʼn roos gee.
…
Die eerste reël in Spaans: “Apenas te he dejado”
As die eerste reël letterlik vertaal word en effens verwerk word om die woordorde reg te stel, kry mens ‘‘Ek het jou skaars verlaat”. Die presies letterlike vertaling met behoud van die oorspronklike woordorde is: “Skaars jou ek het verlaat”.
Dit is seker vanselfsprekend dat enige vertaler ’n sin of frase outomaties sal weergee in die teikentaal se woordorde. Maar wanneer mens by die werkwoord kom in hierdie frase, is die werkwyse nie meer so vanselfsprekend nie. Die Afrikaanse weergawe in die bundel is: “Skaars is ek weg van jou”.
Die toonaard in die Afrikaanse reël het baie verander. In Spaans gebruik Neruda die eenvoudige verlede tyd: “dejado/het verlaat”. In Afrikaans is die tydsaanduiding subtiel anders. “is … weg van”. Hier voel die leser ’n korter tydsbestek tussen die twee minnaars se samesyn en hulle skeiding. Die frase “is … weg van” is nie so implisiet in die verlede as “het verlaat” nie.
Tweedens het ek gemeen dat Neruda nie die meer onaangename betekenis van “verlaat” bedoel het nie. Hy het nie bedoel dat “verlaat” die betekenis het van ’n man wat sy vrou uit die huwelik verlaat het nie, eerder dat twee minnaars in ’n stormagtige liefdesverhouding weg gaan van mekaar en weer bymekaarkom.
Hier wil ek net opmerk dat wanneer ek Afrikaanse woorde kies in ’n vertaling, kies ek feitlik altyd die eenvoudigste een. Dit is kenmerkend van Neruda se poësie dat daar merendeels geen ongewone of tegniese, of elitistiese woorde in voorkom nie. In Afrikaans behoort dit ook so te wees wanneer daardie gedigte vertaal word.
In die gedig hierbo kom die volgende reëls voor:
“My liefling,
ons het mekaar dorstig gevind, en ons
het al die water en bloed gedrink, ons het mekaar gevind
met honger
en ons het mekaar gebyt”
Al die woorde in die uittreksel hierbo bestaan uit twee lettergrepe.
Die eerste twee reëls in Spaans:
“nos hemos encontrado
sedientos y nos hemos”
Hier kom twee en drie lettegrepe voor. Die Afrikaans neig na nog groter eenvoud as die Spaans.
Ek wil volstaan met net hierdie uittreksels uit die gedig. Ek dink die kort analise hierbo toon aan waar my vertaalbeleid op die spektrum lê: behou so ver moontlik van die kerninhoud van die Spaans, maar met ’n poging om die Afrikaans treffend en vars aan te bied.
Die streng vorm
Die verskillende soorte sonnetvorme het taamlike streng reëls wat betref metrum, reëllengtes, strofes en getal reëls. Neruda het heelwat sonnette geskryf, maar hy het dit in ’n soort vrye vorm gedoen. Hy het wel dikwels die oktet en tersine ingespan, maar daar is geen sprake van Shakespearinaase jambiese pentameters nie, asook geen planmatige eindryme nie.
Ek het dus vry gevoel om sy sonnette ook in vrye vorm te vertaal. Dit was dus nie nodig om die rympatroon van die bronteks te probeer navolg nie. Dit is ’n byna onmoontlike taak. Die vertalings van die sonnette kon dus konsentreer op die sin en inhoud en emosionele atmosfeer, eerder as op die vereistes van ’n streng vorm.
Dieselfde geld vir sy odes. Hier het ek Neruda se reëlindeling naastenby gevolg om dieselfde gevoel van stromende, spontane uiting weer te gee. Maar weer eens was daar geen poging om die klankpatroon en (niebestaande) rymskema te probeer navolg nie.
André Lefevere10
Lefevere word saam met ’n paar ander akademici beskou as die grondlegger van die moderne vertaalkunde. In Wikiwand is daar die volgende inskrywing:
“Lefevere11 developed the idea of translation as a form of rewriting, which means that any text produced on the basis of another has the intention of adapting that other text to a certain ideology or to a certain poetics, and usually to both.”
In die proses van die vertaling van Neruda se gedigte het ek nie bewustelik ’n poging aangewend om die “ideologie” in sy gedigte aan te pas in die Afrikaanse weergawes nie. Dit was wel die geval met die poëtika. Ritmepatrone, klankatmosfeer, subtekste, konnotasies, verwysings na sosio-kulturele aspekte en ander eienskappe van ’n poëtika het ingespeel. Die gevolg is dat die Afrikaanse tekste nie noukeurige kopieë van die Spaans wil wees nie, maar ’n eie lewe kry as volwaardige Afrikaanse gedigte met ’n unieke poëtika.
Ek wil afsluit deur kortliks te praat oor ’n tegniek wat ek aangewend het om die Spaanse gedigte so goed as moontlik te verstaan en te internaliseer. Die tegniek bestaan daaruit dat ek probeer het om gedigte te skryf in die styl van Neruda, en om dit so oortuigend te doen dat die gedig miskien sou kon gesien word as ’n gedig van die Spaanse meester.
Om dit te demonstreer, plaas ek hier so ’n gedig wat ek geskryf het. Dit is in die styl vanNeruda se odes. Hy het ’n reeks odes geskryf oor eenvoudige en alledaagse dinge: die tamatie, ui, ’n boek, klere, ens. Maar hy het nie een geskryf oor ’n aartappel nie. Dus bied ek my ode hier aan as ’n naskrywing van Neruda se digkuns.
Ode aan die aartappel
De Waal Venter
hulde aan Pablo Neruda
‘n Klein aarde,
bruin, glad
soos die dye
van ‘n meisie
wat wag vir haar minnaar.
Die mes
onthul jou wit vlees,
ontskil
is jy naak,
wit
onskuld van kinderjare.
Water dans in kookgenot,
jy duik in,
onverskrokke,
pyn oorkom jy –
‘n heilige wat iets groots sien.
Nou is jy anders,
jy bied
jou siel aan,
jy neem plaas op die glansende wit bord,
pietersielie
loof jou,
botter smelt in jou
volkome teenwoordigheid,
sout seën jou,
jy is aan die spits,
die poorte gaan oop
en orrels dreun,
kore hang ryk tapisserieë
van bewondering
teen die verhemelte,
jy is bevrediging
en nie meer
van hierdie aarde nie.
Bronne
- Venter, De Waal. 2019. Vandag is boordensvol. Uitgegee deur Naledi
- Neruda, Pablo. 1970. Pablo Neruda, Selected Poems. Edited and with a Foreword by Nathaniel Tarn. Houghton Mifflin / Seymour Lawrence, Boston
- Tonight I can write (The Saddest Lines). Vertaler: W.S. Merwin.
- “Het mooiste gedicht”
- “PABLO NERUDA text HEUT NACHT KANN ICH DIE TRÜBSTEN TRAURIGSTEN VERSE SCHREIBEN
- Le Monde.
7.“Translation and Translation Studies: Introduction to Translation” (2001)
Wikipedia.
- “23 gedichten van Pablo Neruda”
- TranslationDirectory. Artikel: “Literary Translation. Recent Theoretical Developments”
11 André Lefevere. Wikiwand
Ek stem saam, Hein. “Kalm” sou ook ‘n keuse kon gewees het. Ek het waarskynlik “rustig” verkies omdat daar iets meer van ‘n emosionaliteit in steek as “kalm” wat vir my ietwat “koud” voel. Emosie (verlange, wanhoop, weemoed ens.) speel ‘n sterk rol in die gedig en ek wou elke woord daarvan laat spreek op een of ander wyse.
De Waal
Kalm sou dalk gewerk het as vertaling vir “fijos”:
“Hoe kon ek nie haar groot kalm oë liefgehad het nie?”
Of:
“Hoe kon ek nie haar oë, groot en kalm, liefhê nie?”
Hein
Ek is bly jy vind die artikel nuttig, Marlies. Ek hoop ander belangstellendes in die vertaalkunde sal dit ook interessant vind.
Dit is werklik gaaf dat jy die gedig geniet het, Berthold. ‘n Aartappel is nou wel ‘n knol, maar dit is heerlik om te eet!
wonderbaarlike aartappel-minnesangerslied!
(dank u seer, Heer Venter.)
gode en mense prys u lof:
die koningin van Engeland sing saam.
“botter smelt in jou…/poorte gaan oop/orrels dreun”
o – bring na my mond daardie vrug…
Baie insiggewende artikel, De Waal. Baie dankie!