Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
18 November 201918 November 2019

De Waal Venter. Verdiep in Tranströmer

Hierdie gedig bestaan hoofsaaklik uit aangepaste aanhalings uit verskeie van Tomas Tranströmer se gedigte en een uit ’n gedig van Van Wyk Louw.

 

Ek het verdiep geraak

in die boek met gedigte.

Op die voorblad

is die gesig van die digter.

 

Ek het gevoel hoe ek insak,

dieper, tot by die eerste gedig.

In die nag.

Die motor se kopligte

laat huise verskrik opkyk.

 

Nog dieper: Dit is ’n groot leë saal.

In die middel staan ’n perd.

Sy hoewe stommel

op die mosaïekvloer.

 

Dieper en dieper.

Die pil los op in die glas water,

vou oop soos ’n valskerm

wat boontoe val, dieper.

 

Die klavier staan in die lig

wat skeef uit die lamp val

en neurie sag vir homself.

Dit kan nogal

’n Schubert-melodie wees.

 

Dieper die nag in

waar die sneeu aanhoudend val

soos ’n knaende gewete.

’n Uil vlieg geluidloos

oor die donker stilte

van die woud.

 

Ek volg die uil,

dieper die verlate landskap in,

tot by die reënkoue see

wat die geankerde skepe

ligweg aan die slaap probeer sus.

 

Ek dink ek het iemand

by ’n deur sien inloop,

daar was vir ’n oomblik lig

agter die deur

voor dit weer toegemaak is.

Ek dink dit is ek.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← De Waal Venter. Traduttore, Traditore!
De Waal Venter. Paleis →

5e gedagtes oor “De Waal Venter. Verdiep in Tranströmer”

  1. Marlies Taljard says:
    21 November 2019 at 14:32

    Dankie vir jou fassinerende uitleg, de Waal. Ek het dit ook geniet! Sien uit na die bundel wat hopelik kom!

    Reply
  2. De Waal Venter says:
    19 November 2019 at 16:19

    My apologie aan Helize en Marlies. My antwoord is natuurlik aan Helize. My brein het ‘n eienaardige verwarring beleef. “My voete loop na Wellington, maar ek gaan Worcester toe!”

    Reply
    1. Helize van Vuuren says:
      20 November 2019 at 15:19

      is reg, die kind leg innie wingerd in
      (en lyster wat da’ sing)
      solank die voete net bly loop

      Reply
  3. De Waal Venter says:
    19 November 2019 at 15:28

    Goed, Marlies. Hieronder is die bronne waaruit die reëls kom. Ek plaas die reëls uit die gedig “Verdiep in Tranströmer” tussen hakies. Dan die titel van die gedig(te) waaruit dit ontleen is en dan die reëls uit die brongedigte.

    Jy sal opmerk dat die reëls in die gedig “ontleen” en “verwerk” is en nie presies gebruik word soos dit in die bronteks voorkom nie.

    Ek noem hierdie tegniek “Vlegting”. Die vers is dus ’n “Vleggedig”.

    Mens kan hier seker praat van drie “hande”: Tranströmer, Louw en Venter.

    Die Tranströmer-gedigte is almal deur my vertaal en is bedoel vir die bundel wat ek hopelik sal kan publiseer. Hulle is dus nog nie beskikbaar in bundel-konteks nie.

    Hier is die reëls en hulle bronne:

    (Die motor se kopligte
    laat huise verskrik opkyk)

    Nocturne

    Ek ry in die nag deur ’n dorp, huise kom te voorskyn
    in die kopligte – hulle is wakker, hulle wil drink.
    Huise, skure, advertensieborde, voertuie sonder bestuurders –
    nou beklee hulle hulself met Lewe. Die mense slaap.

    (In die middel staan ’n perd)

    Paleis
    ’n Beeld is geplaas in die leegte:
    eensaam in die middel van die saal ’n perd,
    maar eers merk ons hom nie op nie
    want ons is oorweldig deur al die leegheid.

    Beeld van ’n Jeug: Duif en Perd (Uit: Nuwe Verse)
    NP van Wyk Louw
    Die staldeur se dik grendelblok uit die mikke.
    Dit runnik daarbinne, sag, en die pote
    stommel en glip op die ronde stalklippe;
    dan beur hy die deur uit, die swart grote,

    (Die pil los op in die glas water)

    Die paar

    Hulle skakel die lamp af en die wit bol
    gloei ‘n oomblik terwyl dit oplos
    soos ‘n pil in ‘n glas donkerte. Dan opstyg.
    Die hotelmure skuif op in die donker lug.

    (Die klavier staan in die lig)

    Allegro

    Ek speel Haydn na ‘n swart dag
    en voel ‘n ligte warmte in my hande.

    Die klawers wil. Sagte hamers slaan.
    Die klanke is groen, lewendig en stil.

    (’n Uil vlieg geluidloos
    oor die donker stilte)

    Sondagoggend

    ’n Uil wat vroeër uit ’n blou huis se venster gevlieg het
    reis tussen denne deur sonder die geringste geluid
    oor die koppe van ’n vrou en ’n man
    wat nie met mekaar praat nie.

    (daar was vir ’n oomblik lig
    agter die deur
    voor dit weer toegemaak is.
    Ek dink dit is ek.)

    Die halfklaar hemel

    Elke mens is ‘n halfoop deur
    wat lei na ‘n kamer vir almal.
    Die oneindige aarde onder ons.

    Reply
  4. Helize van Vuuren says:
    19 November 2019 at 12:26

    Treffend.
    Maar die misterie is onhoudbaar: gee tog ‘n paar aanduidings van waar, hoe, wie, titels?
    Wat noem jy hierdie tegniek?
    En hoeveel hande was hier doenig? of slegs een?

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d