Hierdie gedig bestaan hoofsaaklik uit aangepaste aanhalings uit verskeie van Tomas Tranströmer se gedigte en een uit ’n gedig van Van Wyk Louw.
Ek het verdiep geraak
in die boek met gedigte.
Op die voorblad
is die gesig van die digter.
Ek het gevoel hoe ek insak,
dieper, tot by die eerste gedig.
In die nag.
Die motor se kopligte
laat huise verskrik opkyk.
Nog dieper: Dit is ’n groot leë saal.
In die middel staan ’n perd.
Sy hoewe stommel
op die mosaïekvloer.
Dieper en dieper.
Die pil los op in die glas water,
vou oop soos ’n valskerm
wat boontoe val, dieper.
Die klavier staan in die lig
wat skeef uit die lamp val
en neurie sag vir homself.
Dit kan nogal
’n Schubert-melodie wees.
Dieper die nag in
waar die sneeu aanhoudend val
soos ’n knaende gewete.
’n Uil vlieg geluidloos
oor die donker stilte
van die woud.
Ek volg die uil,
dieper die verlate landskap in,
tot by die reënkoue see
wat die geankerde skepe
ligweg aan die slaap probeer sus.
Ek dink ek het iemand
by ’n deur sien inloop,
daar was vir ’n oomblik lig
agter die deur
voor dit weer toegemaak is.
Ek dink dit is ek.
Dankie vir jou fassinerende uitleg, de Waal. Ek het dit ook geniet! Sien uit na die bundel wat hopelik kom!
My apologie aan Helize en Marlies. My antwoord is natuurlik aan Helize. My brein het ‘n eienaardige verwarring beleef. “My voete loop na Wellington, maar ek gaan Worcester toe!”
is reg, die kind leg innie wingerd in
(en lyster wat da’ sing)
solank die voete net bly loop
Goed, Marlies. Hieronder is die bronne waaruit die reëls kom. Ek plaas die reëls uit die gedig “Verdiep in Tranströmer” tussen hakies. Dan die titel van die gedig(te) waaruit dit ontleen is en dan die reëls uit die brongedigte.
Jy sal opmerk dat die reëls in die gedig “ontleen” en “verwerk” is en nie presies gebruik word soos dit in die bronteks voorkom nie.
Ek noem hierdie tegniek “Vlegting”. Die vers is dus ’n “Vleggedig”.
Mens kan hier seker praat van drie “hande”: Tranströmer, Louw en Venter.
Die Tranströmer-gedigte is almal deur my vertaal en is bedoel vir die bundel wat ek hopelik sal kan publiseer. Hulle is dus nog nie beskikbaar in bundel-konteks nie.
Hier is die reëls en hulle bronne:
(Die motor se kopligte
laat huise verskrik opkyk)
Nocturne
Ek ry in die nag deur ’n dorp, huise kom te voorskyn
in die kopligte – hulle is wakker, hulle wil drink.
Huise, skure, advertensieborde, voertuie sonder bestuurders –
nou beklee hulle hulself met Lewe. Die mense slaap.
(In die middel staan ’n perd)
Paleis
’n Beeld is geplaas in die leegte:
eensaam in die middel van die saal ’n perd,
maar eers merk ons hom nie op nie
want ons is oorweldig deur al die leegheid.
Beeld van ’n Jeug: Duif en Perd (Uit: Nuwe Verse)
NP van Wyk Louw
Die staldeur se dik grendelblok uit die mikke.
Dit runnik daarbinne, sag, en die pote
stommel en glip op die ronde stalklippe;
dan beur hy die deur uit, die swart grote,
(Die pil los op in die glas water)
Die paar
Hulle skakel die lamp af en die wit bol
gloei ‘n oomblik terwyl dit oplos
soos ‘n pil in ‘n glas donkerte. Dan opstyg.
Die hotelmure skuif op in die donker lug.
(Die klavier staan in die lig)
Allegro
Ek speel Haydn na ‘n swart dag
en voel ‘n ligte warmte in my hande.
Die klawers wil. Sagte hamers slaan.
Die klanke is groen, lewendig en stil.
(’n Uil vlieg geluidloos
oor die donker stilte)
Sondagoggend
’n Uil wat vroeër uit ’n blou huis se venster gevlieg het
reis tussen denne deur sonder die geringste geluid
oor die koppe van ’n vrou en ’n man
wat nie met mekaar praat nie.
(daar was vir ’n oomblik lig
agter die deur
voor dit weer toegemaak is.
Ek dink dit is ek.)
Die halfklaar hemel
Elke mens is ‘n halfoop deur
wat lei na ‘n kamer vir almal.
Die oneindige aarde onder ons.
Treffend.
Maar die misterie is onhoudbaar: gee tog ‘n paar aanduidings van waar, hoe, wie, titels?
Wat noem jy hierdie tegniek?
En hoeveel hande was hier doenig? of slegs een?