Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans. Vert. deur Bester Meyer.
.
Poëtiese Regulasies
die sterre het slegs een taak gehad:
hulle het my geleer om te lees –
dat ek ‘n taal in die hemel,
en nog een hier op aarde het:
wie ís ek? – wie ís ek?
ek wil nie nou al antwoord nie
mag ‘n ster inval op haarself.
en mag ‘n kastaiingboom-woud
opreis na die melkweg, saam met my
en mag dit sê:
jy moet híér bly!
die gedig is daarbo:
sy kan my wys maak net wat sy wil.
sy kan my leer om ‘n venster oop te maak –
om tussen legendes ‘n huishouding te bestuur –
sy kan my vir ‘n rukkie, in eg verbind aan myself
my vader is daaronder:
hy dra ‘n duisend jaar ou olyfboom
wat nòg van oos nòg van wes af is.
laat hom met rus –
weg van sy veroweraars vir ‘n ruk.
en wees tog net delikaat met my.
en versamel iris en lelie vir my
~
die gedig laat my staan
en vlug in die rigting van ‘n hawe
waar die matrose lief is vir wyn,
en nooit terugkeer na dieselfde vroue nie –
hulle het nie berou, of hunkering na enigiets nie
liefde het my nog nie gedood nie,
maar ‘n moeder sien die vrees wat angeliere
vir die blompot koester in die oë van haar seun.
sy huil om dinge af te weer voor hulle begin.
sy huil vir my om lewend terug te keer
van my bestemde pad en hier te lewe
die gedig is nie hier of daar nie.
en hy kan nagte verlig
met ‘n meisie se boesem.
met die gloed van ‘n appel,
maak hy twee liggame vol met lig.
met die katjie-piering se asem
kan hy ‘n vaderland laat herleef!
die gedig is in my hand –
ek kan stories deur haar hande laat vloei.
maar sedert ek die gedig aangryp,
is ek verkwistend met my siel,
en nou vra ek:
wie ís ek? – wie ís ek?
die Dromers kom van een Hemel na ‘n ander verby
…en ons het ons kinderjare oorgelaat aan die skoenlapper
toe ons ‘n paar druppels olyfolie op die trappe laat staan het.
maar ons het vergeet om die kruisement oral te groet.
ons het vergeet om ons môre in geheim te groet.
die ink van die middag was wit
as dit nie vir die skoenlapper se boek,
wat rondom ons bly fladder het, was nie
skoenlapper, suster van jouself!
wees- voor my hunkering, en daarna,
dít waarna jy smag.
maar laat my ‘n broeder van jou vlerk wees
sodat my waansin koorsig mag bly.
skoenlapper, jy gebore uit jouself,
moenie dat ander my lot bepaal nie,
en moet my nie agterlaat nie
van een hemel
na ‘n ander
kom die dromers verby –
die skoenlapper
se diensmeisies dra spieëls van water.
ons kan wees wat ons moet wees.
van een hemel
na ‘n ander
kom die dromers verby –
die skoenlapper spin
haar bekleedsel
op ‘n naald van lig
om haar komedie te versier.
die skoenlapper is uit haarself gebore
en dans in die vlam van haar tragedie
~
halwe feniks
wat haar aangeraak het, raak ons ook aan,
en verberg die ooreenkomste tussen lig en vuur,
en die ooreenkomste tussen die twee roetes.
nee, ons liefde is nie dwaasheid of wysheid nie.
en gevolglik –
kom die dromers
van een hemel
na ‘n ander verby
en verby en verby
en vir ewig verby
die skoenlapper
is water wat hunker na vlug.
dit sypel van die sweet van jong meisies
en word langsaam ‘n wolk van herinnering.
die skoenlapper is wat die gedig nie sê nie.
haar absolute ligtheid breek woorde,
soos drome dromers breek
laat dit so wees!
laat môre se teenwoordigheid met ons wees.
laat gister se teenwoordigheid met ons wees.
laat vandag teenwoordig wees in hierdie feesdag
op-sy-gesit vir die skoenlapper se herdenking…
en,
laat die dromers
van een hemel
na ‘n ander verby kom
van een hemel
na ‘n ander
kom die dromers verby
Uit: Waarom het jy die Perd alleen gelaat? (1995) Vertaal deur Amira El-Zein en geredigeer deur Munir Akash en Carolyn Forché in Unfortunately, It was Paradise (2003) Vert. in Afrikaans deur Bester Meyer.
