Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans. Vertaal deur Bester Meyer.

.

Ons was sonder ‘n Hede

 

laat ons gaan soos ons is:

‘n vrye vrou en lojale vriend.

laat ons op twee verskillende paaie saamgaan

laat ons afsonderlik gaan, en as een,

met niks wat ons seer maak nie.

nie die skeiding tussen duiwe;

of die koeltes tussen hande;

of die wind om die kerk,

wat uit die amandelbome fleur, was genoeg  nie.

so glimlag vir die amandels om selfs meer te blom

tussen die skoenlappers van twee kuiltjies

 

daar sal binnekort vir ons ‘n nuwe hede wees.

as jy terugkyk, sal jy slegs die ballingskap

van jou eie terugblik gewaar:

jou slaapkamer;

die binnehof-wilger;

die rivier agter die geboue van glas;

die kafee van ons afspraak…dit alles, alles

word voorberei om ballingskap in te gaan,

so laat ons dan goedhartig wees!

 

laat ons gaan soos ons is:

‘n vrye vrou en ‘n vriend lojaal aan haar fluite.

ons tyd was nie genoeg om saam oud te word nie;

om uitgeput na die teater toe te loop nie;

om ‘n einde aan Athene se oorlog met haar bure te aanskou,

en om die fees van vrede tussen Rome en Carthago te sien nader kruip nie.

Binnekort sal die voëls van een epos na ‘n ander verhuis:

was hierdie pad slegs stof in die vorm van betekenis?

het dit ons laat opmars soos ‘n verbygaande reis tussen twee mites?

soos die pad onafwendbaar is, netso is ons ook onafwendbaar

soos ‘n vreemdeling wat homself in die spieël van ‘n ander vreemdeling gewaar?

nee, hierdie is nie die pad na my liggaam toe nie.

daar is geen kulture oplossings vir eksistensiële bekommernisse nie.

waar ook al jy is, is daar ‘n werklike hemel vir my.

wie is ek om jou die verlede se son en maan terug te besorg.

laat ons dan goedhartig wees…

 

laat ons gaan soos ons is:

‘n geliefde, vry, en haar digter.

dit wat van Januarie se sneeu geval het was nie genoeg nie,

so glimlag, dat die sneeu gekam word soos katoen op die Christen se gebede.

in ‘n wyle sal ons terugkeer na ons môre, agter ons,

daar waar ons jonk was, in liefde se begin

soos Romeo en Juliet wat Shakespeare se taal leer ken…

skoenlappers het uit die slaap uit gefladder

as ‘n lugspieëling van ‘n vlugtige vrede -ons met twee sterre tooi-

en ons doodmaak in die stryd om ‘n naam tussen twee vensters.

so kom laat ons gaan,

en laat ons goedhartig wees.

 

laat ons gaan soos ons is:

‘n vrye vrou en ‘n lojale vriend.

laat ons gaan soos ons is.

ons het met die winde van Babilon af gekom,

en ons marsjeer straks na Babilon toe…

my reis was nie genoeg vir die denne

om in my voetstappe

‘n loflied te uiter vir hierdie suidelike plek nie.

hier is ons goedgesind.

ons wind is uit die noorde, ons liedere uit die suide.

is ek ‘n ander jy, en jy ‘n ander ek?

Hierdie is nie die pad na die land van vryheid toe nie.

hierdie is nie die pad na my liggaam toe nie,

en ek sal nie tweekeer ‘n “ek” wees nie.

nou dat my gister my môre geword het,

en ek in twee vroue verdeel het –

is ek nie van oos of van wes af nie.

ook is ek nie ‘n olyfboom

wat skadu gooi oor twee verse van die Koran nie.

laat ons dan gaan.

daar is geen kollektiewe oplossings vir persoonlike besware nie.

om saam te kon wees, was nie genoeg vir ons om saam te wees nie.

ons was sonder ‘n hede, om raak te kon sien waar ons was.

kom ons gaan soos ons is,

‘n vrye vrou en ‘n ou vriend.

laat ons op twee verskillende roetes saamgaan.

laat ons saam gaan,

en laat ons goedhartig wees…

 

 

Sonnet I

 

as jy die laaste is wat god vir my sou sê: wees die voornaamwoord

wat die verdubbeling van “ek” onthul. Geseënd is ons nou dat

amandelbome die voetspore van verbygangers verlig het,

hier op jou oewers, waar korhoenders en duiwe, bo jou, fladder

 

jy het die hemel met ‘n gasel se horings gesteek, en toe vloei woorde

soos dou deur die natuur se are. wat is die naam van ‘n gedig?

voor die dualiteit van skepping en waarheid, tussen ‘n afgeleë hemel

en jou sederbed, wanneer bloed smag na bloed, en marmer hunker?

 

‘n mite sal rondom jou in die son moet baai.

hierdie menigte, hierdie gode van Egipte en Sumerië verander hulle rokke onder palmbome, verander hulle dae se name, en volvoer hulle reis tot rym se einde toe…

 

dit is nodig vir my lied om asem te haal: die digkuns is nie digkuns nie,

en prosa is nie prosa nie. ek het gedroom dat jy die laaste is wat god my vertel:

toe ek beide van julle in my slaap gesien het, en gevolglik was daar woorde…

 

Uit: die Bed van die Vreemdeling (1998) uit Arabies vertaal deur Fady Joudah (the Butterfly’s Burden, Copper Canyon Press 2007) Vertaal deur Bester Meyer

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •