N.P. van Wyk Louw 50. Hein Viljoen

 

liewe leser, of: lèse-majesté

verby sestig sluip ek g’n
g’n tonnel of donker grot binne
langs geen donker steeg of straat af
ek staan gewoon in dowwerige lig
die son al onder die dag grouerig bewolk
aand aan die daal of val of iets

maar miskien kan ek jou saamvat
(meevoer waarskynlik nie)  dalk oorreed
om ’n kort reis (verslete metafoor)
saam met my aan te pak   jou skoene
by wyse van spreke skeefgetrap   jou hemp
vaal gebak in die son   bruin verkleur in die nek
die brabandjie geskif op die skouer
die oë al moeg opgeslaan na berge of kafees
selfs die kierie al stomp gestap
(jy sal weet wat ek bedoel)

nugter dinge op pad gesien   deur geen bos
benoud van simbole strompel maar by klaar-
ligte dag straat af loop   werk toe ry
deur deure gaan   trappe op en plaasneem voor die skoop
’n wêreldskoop van 18″ wyd en kyk wat daar te sien is

waar geen vreemde diere afgly met liane
en jou met blou oë betrag of geel of swart
motte met vlerkoë vlug gaan sit
en jou die skrik op die lyf jaag
of taai maaiers teen jou arms afklouter

ligweg in die lig loop
“die lig dryf op die duister soos ’n veer”
by buisligte boeke lees of klein klein kolletjies kleur
in lig geverf
of selfs by hierdie nugter dinge die vrees woon?

’n botteltjie pikswart ink omgeval
’n pluimpie swart in die helder poel
wat die rivier inneem die baai verswart
die see tot aan die horison
taai en loom swart verkleur
swart alles alles swart en swart

by nugter lig dan die wêreld betrag of blou
in drome hul   pers vitrioel van die
verbeelding of dalk dink   besink
die droesem in die glas   rus
stilte donkerte soos rooi wyn

dalk is jy tog gereed gedonkerbril
om saam te gaan
kom, vat my hand

 

© Hein Viljoen /2020

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “N.P. van Wyk Louw 50. Hein Viljoen”

  1. Waldemar Gouws :

    ‘n Klein bylas

    Vir NP vW Louw

    jy het toe al hoe digter geweet
    van vreemde pap wat in die potte prut

    dat jou karakter Raka rym met ons bevestiging
    dog niks van ja uit Koki nie

    dan die genade met jou jonger muse
    gedig op gedig
    (gewoonlik te voet gevorm –
    jy bly aan beweeg)
    grootse tydsgewrig odes
    – die wit skip loop die water in –

    toe dring daardie muse
    migrant Iberies wég
    en laat jou verstug in die swye
    sonder die wiskunde van ekskuse
    of ander hoogtepunte sit

    jou insig in nuwe werklikhede ru misken
    deur die lokaal-onrealistiese hubris-
    en verdrukregime

    tot jy te moeg was die dood te verwag

    nou is daar nog vreemde pap
    wat in die potte prut vandag

  •