die plek van opsluiting
is ‘n digtersparadys
(versigtig, versigtig nou
om dit nie te vergelyk
met die graf –
of praat die dooies juis
lê-lê-so met mekaar
uit holte na holte
van wat gelyk het na lewe ?)
die plek van afsondering
is die digterspaleis
waar die ek die geskiedenis
van vlugte kan lek
en soos ‘n paradysvoël
die vere een vir een
uit die vlerk kan trek
om kaal die stilte
om jou te vou
© Breyten Breytenbach, 2020

Ek moet dit hier sê: van Donderdag af is ek betoor deur hierdie gedig, en dis gelukkig nou eers Sondag. Die vers is betowerend beswerend in ‘n heel nuwe modaliteit.
Baie dankie aan die digter!