baksteendrome
[na aanleiding van die gedig, Die hand vol vere
deur Breyten Breytenbach]
mamie :
hoe het ons twee gelag
toe die peerboom langs die huis
onverwags begin te blom so vroemôre
toe die son nog water agter golwe skep
so op sy rug so abba-abba op sy rug
so in my baksteendroom
óns peerboombloeisels vroe se môremôrevreug
die agterplaas was stil soos ingeperk
maar daar’t viool iewers viool gespeel
gespeel waar lenteblomme wals miskien die kalfiewals?
baldadig in die wind o, my wind my wind se kind
ou tant sien het vensters oopgeskuif
hare uitgebesem hier en daar se haar se stywe haar
sý die eens verspotte lentebloeisel
in die tuin van groot genot nou ingeperk tot sukkelsit
het weggeteer tot klein-klein koggel-mander-lyf
bok bok staan styf : hoeveel vingers oor jóú lyf
pa het die koerant se letters neergesmyt
gekyk hoe mammie peerblomtrane stort
maar als is dig gegrendel want ek is ingeperk
die vissies in die sementdammetjie
is seker nog daar koi-koi rondomswembaljaar
koi-koi kleur-vir-kleur-vermeng
en adam in die buitekamer
seker nou net withaar adam in die buitekamer
so verweer van gras se sny
gras-gras groen gras maar hare wit soos wol
‘n engel uit die agterkamp van ingeperk
ek met my breëborspak
italiaanse skerppuntskoene en angelier in die knoop se gat
die vrou staan soos ‘n bliksoldaatjie wag vir ma se soen
o, bloedlemoen o, soen se soen se bloedlemoen : judaskus?
afgeskil tot op die wit se witsel sonder swart
daar’s ook ‘n present vir ma ‘n hand vol veer se woorde
en vir pa ‘n dikleesboek en gladlensbril
ek het my kinders vroe-vroe boland verwoord
nou staan hul agter ma en lag hul buitelands
blinkgebleste hare witlyf sonder son
pa het seker nog die geweer wat oupa weggesteek het
toe die britte blitse oor die werf geblaas het
[ek ook uit my voorgeslag miskien ‘n deel gehad het]
nou ingeperk in die buitekamer van onthou
die wingerd hang swanger van trosse rooi en groen
pa se lyf nou weggesnoei uit die lewe oud en afgerem
bruin soos die wyn : so pers
soos droëlandstokke voor die reën se seën
net die amandelboom, my mammie
staan bloeiend in die blom en wag vir my om t’rug te kom
miskien wag abel ook op my met sy kersfeeskoor
[ai, hoe lank gelede het ek hom verloor]
abel wat kon speel en sing totdat ons huil
as woorde van sy koor so uit die monde kwyl
maar toe was hy nog ingeperk : ek die onaangetaste
ek hoor vir Wagter blaf
kom ruik hier aan my broek se pyp en blaf
blaf sy vreugde oor die werf my blinde uitgebaster wagter
miskien moet ek vir elvis huur
om vir ma en pa te kom sing van jailhouse rock
en blue suede shoes of love me tender
ma se veertjie het ek ingeplant hier teen die muur
gedog daar kom ‘n hoender op
maar ek is ingeperk waar baksteenwoorde steen-
vir-steen afdrup teen die muur
© Thomas Deacon, 2020

Ek is beïndruk en het lekker gelees.
A! Hoe lewe die vers, dit loop die spuigate uit…Pure plesier.
Dankie! dit maak my dag…