N.P. van Wyk Louw 50. Cas Vos
Inferno
ons het uitgekom om die sterre weer te sien glinster – Dante, Inferno, Canto XXX1V, 139.
Met van Wyk Louw se “Inferno” as aanhitsing.
’n Gerug doen die rondte:
al die sterre konkel en wil op vlug
slaan uit die kosmiese ligtrans –
die wêreld is nie meer ons woning nie.
Hulle wil in kringe kronkel
uitgestrek na die ewige nag
waar Inferno se poortwagter waak
oor die godverlate plek van skande;
die nag se koordans sal faal
en die reuse ondier wat oor berge skuur
sal met sy snypunt sterre ontluister
en hulle slykbesmet na Inferno sleep
waar hulle na lig sal tas voor hulle
in die donker put tot Inferno
se behae tot niet gaan van al
die sterbeskitterde nagte ontslae.
© Cas Vos
Cas Vos: Dankie, jy lei my na diepgange in Van Wyk Louw se oeuvre wat ek nog nie betree het nie!
Jy laat die ondier selfs die sterre verorber!
Waar berg ek my? Is daar hoop by Dante?