Of dit gloeiwurms in grotte is … of vonkende plankton wat soos ’n sterrehemel onder die seewaters skyn; of die silwer borduurwerk om ’n vis se romp; of die nederige vuurvlieg met ’n flitsie in sy stert: bioluminesente lewe is verstommend, oeroud, en beskik oor gesofistikeerde sein- en kommunikasiestelsels. Skrikwekkend futuristies.
Die lampie van die Photurus-vuurvliegie is bedek met skubbe wat ’n geriffelde patroon vorm, amper soos dakteëls wat oor mekaar geplaas is. En tog laat dit die lamp byna 50 persent helderder skyn as wat dit die geval sou gewees het as die skubbe plat gelê het. Gepraat van biomimese – of die mens se nabootsing van biologiese verskynsels in die vervaardiging van produkte en tegnologie: hierdie ‘ontwerp’ van die vuurvlieg se lamp word gebruik om ligemissiediodes (LED’s) doeltreffender te maak. Wetenskaplikes het LED’s bedek met ’n geriffelde oppervlak wat soortgelyk is aan dié van die vuurvliegie se lampie. Die gevolg was dat die LED’s tot 55 persent meer lig uitgestraal het. Haas ongelooflik!
Beide Aristoteles en die Romeinse filosoof Pliny het verwys na vermolmde hout wat “’n gloed afgee”. Eers ’n paar eeue later het dié magiese verskynsel, gloeiwurms, ’n naam gekry, naamlik bioluminesensie. Dit verwys na lewende organismes soos marienediere, byvoorbeeld jellievisse, fungi, mikro-organismes, fosfor in ’n seesoom, bakterieë en insekte wat self lig kan vervaardig. By ’n vuurvlieg, byvoorbeeld, dien die ensieme, lusifirien en lusiferasie in die kewer se buik as katalisators wat in die teenwoordigheid van suurstof en water (vog) reageer om lig te vorm.
Lank voor die implementering van veiligheidsligte in myne, het myners bottels vol vuurvlieë gedra om hul omgewing te verlig. Interessant genoeg dien die lampies wat ligdraende organismes dra, min of meer dieselfde doel as by die mens, wat lig kunsmatig moet vervaardig. ’n Bioluminesente organisme straal (of flikker) lig óf as deel van hulle kamoeflering en mimikrie; óf om alarm te maak teen gevaar, byvoorbeeld predatore; óf om te dien as lokmiddel (vir prooi); óf om as deel van reproduksie hulle maats te lok of te herken.
Bioluminesensie het al menige digter geïnspireer; veral die vuurvlieg word as magiese wese verbeeld. Daar is ook digters wat ’n meer wetenskaplike beskouing rondom hierdie ligdraers verwoord. In “Swanger vrou” skets Jonker die herinnering van ’n betowerende jeug teenoor die ontluistering en onthutsende werklikheid van swangerskap, strofes 3 en 4:
.
Nòg singend vliesrooi ons bloedlied,
ek en my gister,
my gister hang onder my hart,
my kalkoentjie, my wiegende wêreld,
en my hart wat sing soos ‘n besie,
my besie-hart sing soos ‘n besie;
maar riool o riool,
my nageslag lê in die water.
.
Ek speel ek is bly:
kyk wáár spat die vuurvlieg!
die maanskyf, ‘n nat snoet wat beef –
maar met die môre, die hinkende vroedvrou
koulik en grys op die skuiwende heuwels,
stoot ek jou uit deur die kors in die daglig,
o treurende uil, groot uil van die daglig,
los van my skoot maar besmeer
met my trane besmeer
en besmet met verdriet.
.
Ook in Marlise Joubert se vers, “Waterberge”, word die allure van ’n mooi jeugherinnering aan die hand van ’n vuurvlieg verbeeld, strofes 3-4:
.
dis nie ’n taal uit my Boland se berge nie
nog minder ’n taal van die San of ’n kind uit die Karoo
dis ’n anderste wartaal gekruisig in die bloed
wat uit die Waterberge val
’n donker rivier deur jou lyf laat reën
waar die vreemdeling geen weerkaatsing vind
geen afbeelding wat roer
tensy jy die vuur verstaan dat elke vlam
soos ’n witbasblom sy eie musica sacra straal –
.
ek reis soms terug op ’n oggend soos nou
met die Stabat Mater drywend agterna
ek steek gemaklik weer lanterns aan
vlieg geluidloos soos ’n vuurvlieg deur die veld
In Johann Lodewyk Marais se bundel, In die bloute, word ’n inkvis dubbelduidig en enersyds as Ars poëtikale siening, en andersyds as bioluminesente verskynsel voorgestel:
.
Die inkvis word in die treilnet
van die woord harteloos gevang.
Swyg sou nie onvanpas wees nie:
jou sien en weet bra sonder nut.
Maar met die diefstal van sy ink
bring jy hom meteens aan die lig.
.
Ook Johann de Lange bring in sy bundel, Weerlig van die ongeloof, die intelligente inkvis in verband met taal en die vermoë om te kommunikeer.
.
Die inkvis is ’n geisja
wat ligvoets dans oor koraal,
verwissel vlug kimono’s
in ’n ondersese taal.
.
Ongeag die invalshoek – mities, magies of wetenskaplik – dit is duidelik dat digters die bioluminesente vermoëns van organismes bedig as tipe seintaal of kommunikasie, en ek haal aan uit Cloete se Karnaval en Lent:
.
my insekte kan mekaar van ver roep
in die nag mekaar ruik
mekaar opspoor met feromoon
sonder radio of telefoon
van ver af in die donker
gloei die koue geel lig van vuurvliegies
en gloeiwurms morse vir mekaar . . .
Verwysings:
https://en.wikipedia.org/wiki/Bioluminescence#:~:text=Bioluminescence%20is%20the%20production%20and,terrestrial%20arthropod%20such%20as%20fireflies.
https://www.jw.org/af/biblioteek/tydskrifte/g201402/lampie-photuris-vuurvliegie/
Cloete, T.T. 2014. Karnaval en Lent. Kaapstad: Tafelberg.
De Lange, J. 2010. Weerlig van die ongeloof. Pretoria: Protea Boekehus.
Jonker, I. 1963. Rook en oker. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.
Joubert, M. 2007. Passies en passasies. Pretoria: Protea Boekhuis.
Marais, J.L. 2012. In die bloute. Pretoria: Cordis Trust Publikasies.
Boeiend, Nini. Had ek ‘n tweede lewe, sou ek dit aan natuurstudie wy. Van die gediertes op die foto’s lyk so ryklik verbeeld as ruimteskepe en -wesens.