Winternag
O kil is ons stadsliggies
en banaal.
En blink bo die skyn-
heilige ou Transvaal,
flou soos anderman se genade
flikker straatligte in weerwil van skade.
En op die hoogste laagtepunt van die rand
versprei in politieke brande,
val ons nasate in by doeane
met wuiwende hande.
Hoe treurig, Eugène, hoe astrologies
bid ons nou met ‘n Skype-wit lyn,
wink stadsligte soos kat-ogies,
bekend soos diefwering en dooswyn.
Soos plaasmotte tot die lig aangetrokke
raak ons geblaker, afsydig betrokke,
‘n kontinentale geflonker en -fladder
in die oog van die adder.
© Christo van der Westuizen, 2020
(Hierdie gedig het voorheen reeds in “Taalgenoot” verskyn)