’n Elegiese vers
met N.P. van Wyk Louw
in die baai lê die water stil en glad
maar rondom oor houtbaai en kampsbaai en seepunt
spuug die branders skuim
wat in die wit sand stol
in die baai het die wind gaan lê
water blink en glad soos ’n spieël
daar stap ’n ou man met sy hond
snuffel tussen skulp in spoelsand rond
(sien jy jouself in hierdie spieël?
ek is jou wese se onderwater
en ek blink op jou spoor
sonder om jou te verloor)
die seun met sy visblikskuitjie
span die seil – ’n bont sakdoek –
vaar weg oor die see
sonder spane waag hy dit oor die blou,
want die wind het gaan lê in die baai
(o waar sal jy gaan
en met watter skip?
en as jy wil vlug van hierdie strand
dan vlug ek en jou onderwese saam
selfs tot anderkant die oseaan)
die ou man loop en bid
om alles wat wind-berg-planeet
se aard het af te lê
en ’n wyle te broei oor die vrees
maar die seevoëls krys hulle weemoed uit oor die visblikskuit
wat vaar oor die blou
en uit oor die ou man wat vlug langs die see
(en jy vlug waarheen? vir wie?
want ek is jou wese se onderwater
en ek blink op jou spoor
sonder om jou te verloor)
© Thomas Deacon, 2020