ingeperkte drome
(na aanleiding van die gedig “Die hand vol vere” deur Breyten Breytenbach)
mammie: hoe het ons twee gelag
toe die peerboom langs die huis onverwags begin te blom
so vroemôre toe die son nog water agter golwe skep
so op sy rug so abba-abba op sy rug
hier in my baksteendroom
óns peerboombloeisels vroe se môremôrevreug
die agterplaas was stil en ingeperk
maar daar’t viool gespeel waar lenteblomme wals
miskien die kalfiewals?
ou tant sien het vensters oopgeskuif
hare uitgebesem hier en daar se stywe haar
sý die eens verspotte lentebloeisel
in die tuin van groot genot nou ingeperk tot sukkelsit
bok bok staan styf: hoeveel vingers op jou lyf
pa het die koerant se letters neergesmyt
gekyk hoe mammie peerboomtrane stort
maar als is dig gegrendel want ek is ingeperk
die vissies in die sementdammetjie
is seker nog daar koi koi rondomswembaljaar
koi-koi-kleur-vir-kleur-vermeng
en adam in die buitekamer
seker nou net withaar adam in die buitekamer
so verweer van gras se sny
gras-gras groen maar die hare witgestol
‘n engel uit die agterkamp van ingeperk
ek met my breëborspak
italiaanse skerppuntskoene en angelier in knoop se gat
die vrou staan soos ‘n bliksoldaatjie wag vir ma se soen
o, bloedlemoen o, soen se soen se bloedlemoen: judaskus?
afgeskil tot op die wit se witsel sonder swart
daar’s ook ‘n present vir ma ‘n hand vol veer se woorde
en vir pa ‘n dikleesboek en gladlensbril
ek het my kinders vroe-vroe boland verwoord
nou staan hul agter ma en lag hul buitelands
blinkgebleste hare witlyf sonder son
pa het seker nog die geweer wat oupa weggesteek het
toe die britte blitse oor die werf geblaas het
(ek ook uit my voorgeslag miskien ‘n deel gehad het)
nou ingeperk in die buitekamer van onthou
die wingerd hang swanger van trosse rooi en groen
pa se lyf nou weggesnoei uit die wingerd oud en afgerem
bruin soos wyn: se pers
soos droëlandstokke voor die reën se seën
net die amandelboom, my mammie
staan bloeiend in die blom en wag vir my om t’rug te kom
miskien wag adam ook op my met sy kersfeeskoor
(ai hoe lank gelede het ek hom verloor)
abel wat kon speel en sing totdat ons huil
as woorde van sy koor so uit hul monde kwyl
maar toe was hy nog ingeperk : ek die onaangetaste
ek hoor vir wagter blaf
kom ruik hier aan my broek se pyp en blaf
blaf sy vreugde oor die werf my blinde Wagter
miskien moet ek vir elvis huur
om vir ma en pa te kom sing van jailhouse rock
en blue suede shoes of love me tender
ma se veertjie het ek ingeplant hier teen die baksteenmuur
gedog daar kom ‘n hoender op
maar ek is ingeperk waar baksteenwoorde steen-
vir-steen afdrup teen die muur
© Thomas Deacon, 2020
