Thomas Deacon. ingeperkte drome

 

ingeperkte drome

(na aanleiding van die gedig “Die hand vol vere” deur Breyten Breytenbach)

 

mammie: hoe het ons twee gelag

toe die peerboom langs die huis onverwags begin te blom

so vroemôre toe die son nog water agter golwe skep

so op sy rug    so abba-abba op sy rug

hier in my baksteendroom

óns peerboombloeisels vroe se môremôrevreug

die agterplaas was stil en ingeperk

maar daar’t viool gespeel waar lenteblomme wals

miskien die kalfiewals?

ou tant sien het vensters oopgeskuif

hare uitgebesem hier en daar se stywe haar

sý die eens verspotte lentebloeisel

in die tuin van groot genot     nou ingeperk tot sukkelsit

bok bok staan styf: hoeveel vingers op jou lyf

 

pa het die koerant se letters neergesmyt

gekyk hoe mammie peerboomtrane stort

maar als is dig gegrendel want ek is ingeperk

 

die vissies in die sementdammetjie

is seker nog daar    koi koi rondomswembaljaar

koi-koi-kleur-vir-kleur-vermeng

en adam in die buitekamer

seker nou net withaar adam in die buitekamer

so verweer van gras se sny

gras-gras groen maar die hare witgestol

‘n engel uit die agterkamp van ingeperk

ek met my breëborspak

italiaanse skerppuntskoene en angelier in knoop se gat

die vrou staan soos ‘n bliksoldaatjie     wag vir ma se soen

o, bloedlemoen o, soen se soen se bloedlemoen: judaskus?

afgeskil tot op die wit se witsel sonder swart

daar’s ook ‘n present vir ma     ‘n hand vol veer se woorde

en vir pa ‘n dikleesboek en gladlensbril

 

ek het my kinders vroe-vroe boland verwoord

nou staan hul agter ma en lag hul buitelands

blinkgebleste hare witlyf sonder son

pa het seker nog die geweer wat oupa weggesteek het

toe die britte blitse oor die werf geblaas het

(ek ook uit my voorgeslag miskien ‘n deel gehad het)

nou ingeperk in die buitekamer van onthou

 

die wingerd hang swanger van trosse rooi en groen

pa se lyf nou weggesnoei uit die wingerd oud en afgerem

bruin soos wyn: se pers

soos droëlandstokke voor die reën se seën

net die amandelboom, my mammie

staan bloeiend in die blom en wag vir my om t’rug te kom

miskien wag adam ook op my met sy kersfeeskoor

(ai hoe lank gelede het ek hom verloor)

abel wat kon speel en sing totdat ons huil

as woorde van sy koor so uit hul monde kwyl

maar toe was hy nog ingeperk : ek die onaangetaste

 

ek hoor vir wagter blaf

kom ruik hier aan my broek se pyp en blaf

blaf sy vreugde oor die werf    my blinde Wagter

miskien moet ek vir elvis huur

om vir ma en pa te kom sing van jailhouse rock

en blue suede shoes of love me tender

 

ma se veertjie het ek ingeplant hier teen die baksteenmuur

gedog daar kom ‘n hoender op

maar ek is ingeperk waar baksteenwoorde steen-

vir-steen afdrup teen die muur

 

© Thomas Deacon, 2020

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •