Gedagtenis aan Gisela Ullyatt (15 Junie1977 – 21 Augustus 2020)

 

 

 

Om Gisela se lewe te eer, is om saggies te trap in die spore wat sy nagelaat het. Haar lewenswysheid was ver bo haar jare, en haar wêreldsiening was een wat jou oë oper as groot oop gemaak het.

Gisela het my lewe binnegekom in 2012 toe sy ‘n resensie gelees het oor my eerste digbundel, nie saamgestem het nie, en laat weet het: ek ken jou nie, maar ek wil iets hieroor skryf. So is ‘n vriendskap gebore, en met Gisela se aanstelling by die Universiteit van Fort Hare se Engelsdepartement, ons deure regoor mekaar, het ons deel van mekaar se lewens geword.

Haar helder blik op die poësie en sensitiewe gees vind uiting in haar eie poësie en in 2019 verskyn haar debuutbundel, Die waarheid oor duiwe (Protea Boekhuis, 2019). Die bundel het ‘n baie lang aanloop en Gisela se pad na publikasie was moeilik en lank. Die duiwe het egter hul tyd afgewag en toe hulle uiteindelik bymekaarkom om te vertrek, was die vlug hoog en wyd.

Haar poësie werp ‘n intense blik op broosheid, verganklikheid en verlies. Konfrontasie met die dood word in die fisiese en konkrete weergegee en dwing die leser tot besinning.

Dit is egter nie net in haar eie poësie waar Gisela se voetspoor lê nie. Haar uitsonderlike vermoeë om ander digters te begelei en hul eie stem te laat opklink, het ‘n verskil gemaak by dié wat daardie voorreg gehad het.  As gedugte span is sy en Tony, haar man en ook digter, verantwoordelik vir die oorgrote meerderheid vertalings van Afrikaanse gedigte in Engels in die versamelbundel, In a burning sea (Marlise Joubert (red.), Protea Boekhuis 2014).

Gisela het ‘n doktorsgraad in Engels van Noord-Wes Universiteit, het deeltyds Engels doseer by Vrystaat Universiteit en die afgelope aantal jare voltyds by Universiteit van Fort Hare in Oos-Londen. Sy was ook as medewerker verbonde by Versindaba waar sy gerespekteer was vir haar diepgaande en deeglike resensies en onderhoude met digters, en was ook redakteur van New Contrast. 

 

Ons is hartseer omdat die tyd vir nog verse maak, te vroeg van haar ontneem is. Maar ons vier haar lewe in die verse wat sy vir ons agterlaat:

 

voor ek vertrek

 

voor ek vertrek

wys my die grys

 

omtes van my binnegoed

die oneindigheid van silwer

 

voor ek vertrek

tem my doringvelde

met origamivoëls

 

hara-kiri die stilte

in my

 

voor ek vertrek

 

(Uit: Die waarheid oor duiwe, 2019)

 

Die onderstaande skakel lei na gedigvoorlesings uit haar bundel, Die waarheid oor duiwe, wat ek kort voor haar dood van Gisela ontvang het:

 

 

Susan Smith

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Gedagtenis aan Gisela Ullyatt (15 Junie1977 – 21 Augustus 2020)”

  1. Joan Hambidge :

    ‘n Verlies vir alle digters. So dig sy in haar
    debuut In die tyd van uile:

    September

    skeef lê die kransduif
    op septembergrond
    geen geheime oopgeskarnier
    slegs ’n stringetjie lentemiere
    intieme besoekers
    op terra incognita

    ‘n Delikate digterskap met baie belofte: so sou ‘n mens hierdie digterskap ten beste kan opsom. Boeddistiese verse, haikoes, lykdigte, verse oor vrouwees, oor ouers, palinodes van bekende gedigte, vind ons in haar debuut. En ‘n uitstekende vertaler – saam met haar eggenoot Tony Ullyatt – het sy veral Wilhelm Knobel se verse goed vertaal.

    Rus in vrede en medelye aan Tony Ullyatt en al haar kollegas.

  2. opaalblink ooptes
    flonkerster se swye plons
    geeswees se diep poel

  3. Marlise Joubert :

    RIV Gisela Ullyatt. Ek het steeds nie woorde oor hierdie enorme verlies van een van die mooiste en talentvolle jong mense wat ek nog geken het nie. ‘n Vry gees. Een wat my lewe (en ek weet baie ander ook) verryk het met haar heerlike korrespondensie, gedigte en kuiers van tyd tot tyd. Mag jy berusting vind hierin, Tony. Haar lyding was lank en ondraaglik, ek weet. My meegevoel en meelewing gaan uit na haar familie en baie vriende wat sy geken het en op verskillende maniere aangeraak het. Haar bundel Die waarheid oor duiwe, sal ‘n kosbare troos bly.

  •