ingeperk
die ou man op die stoep van die bordienghuis
probeer met knoetserige vingers
probeer met knoetsige hande
oor die bontbegrysde hare van die ou vrou streel
en verpulpte borste begin soos rose
stekelrig te rank :
doringprikkies groei oor die ou man se hande
maar die lyf bly toktokkie : sonder lyf
vir haar het hy ‘n botteltjie rooiwyn gebring
met ‘n prent van ‘n laggende nar daarop
en toe die ou man die wyn wou skink
het die bontbegrysde vrou hardop gelag
en die nar van die glas geskeur –
het sy die glans van die bottel óópgebeur –
toe bars haar horison met skuimborrels middeldeur
waarom is jy so kwaad, vrou met die verpulpte lyf?
waarom is daar ‘n skeur in die horison van jou verguiste hart?
dis die nag se verdriet van verlange na die ou man
na toktokkie-toktokkie-se-klop
maar die ou man se lyf bly doodhouertjie styf
eens het visioene soos rooigewangde appels
aan haar liefdesboom gehang
sy ‘n witgebeende eva wat uit oerbeen wakker word
het langs sý ribverwoeste lyf kom lê
sy lispel met ‘n addertong en reik met albei hande
na die appels van sy lyf
hoor hoe word die klapklank van haar tong
klein-klein happies wat verby die sterre spoel
en planete uit hul baan laat tol
om toi-toi weg te dans : nag van blou genot
as die sterre bokant boorde
hortende blinkblits uitskiet in die swart
sal ‘n engel kiewietvlerke klap en pollie ons gaan pêrel toe
op sy trompie t!goem
sal haar adam uit sy slaap ontwaak
en saamspeel hande klap en voete stamp
vir sy groengeblaarde lispelvrou wat pollie ons gaan pêrel toe
vir appelboorde sing?
[want wat hang mooier as rooiwangappels langs die pêrelpad
en wat proe soeter as ‘n blinkgebleste appel
uit songesteelde boorde?]
hang jou harp aan die droë tak van ‘n wilgerboom
en stort verdrietbloed uit jou hart
want ‘n appel rol soms vér : verby die verste wegblyster
oor die vrou se papgeworde lyf spoel verlangesweet
van vergange riviere
maar stokstokkielyf sonder lyf lê die ou man
gekruisigde bene verdor en die ure tik-tik-
toktokkietik oor haar lyf
© Thomas Deacon, 2020
