Thomas Deacon. Ingeperk

 

Korona-gedigte

 

ingeperk

[in gesprek met Breyten Breytenbach]

 

dis so plesierig as jy hoed laat waai –

en tout á toi – jy die ingeperkte hermiet – dagsê vir die dag :

soos koeloe-koeloe bont kalkoen se roep

net voor kamele, druk-druk boggelrug

knipoog deur die naald wil beur

[o die bitter seer]

en sonrooi rooi tamatierooi oor jou rib

se hortjies rank

maar daar’s ‘n brandby agter elke turksvybos

waar jou longdrop skewebek so staan-staan wag  :

ek sien jou sien        ek hoor jou druk

 

ek deel verbeelding as jy op die longdrop sit

–      so ingeperk    –

en luister hoe ‘n bosduif roekekoe

en swartkraai soek na ‘n eliaboom

–      jou wonderboom     –

waar bloukopkoggelmanders wiplyf sit en profeteer

van reën en pap en vleis

hieriekant en douriekant jou blinksit mooi laat blom

jy poets jou droom :

koerantpapier verfrommeld

 

‘n turksvybos by lank-se-sit-fontein :

stekels teen die blou van onse hemel

waar gebeentes óúboklywe word

en vrot visse langs galsterige damme lê en wag

vir kraaie om snawels grate weg te sluk

ek sien jou kieriekromgedraaide lyf van ouderdom

op die lank se sit :          jy huil die groot besef

 

hoe het die longdrop dan jóú pyn geword –

jy : geheel die uwe          jy hermiet

jou arms engelvlerke hoog gelig om oor tamatiesonne

heen te vlieg en véraf áf te kyk

na kamele van die nag wat deur die knipoog

van ‘n naald wil beur

en son ‘n rooi tamatie oor jou lyf se hortjies rol :

ek hoor jou as jy so pompeus snik

 

en hoe het jy stuifmeel gelag

toe amandelbome langs die huis begin te blom

so vroemôre toe die son nog rooilyf agter golwe biggel

so op sy rug       so abba-abba op sy rug

so in jou baksteendroom van ingeperk

jóú amandelbloeisels vroe se môrevreug

die agterplaas was stil soos ingeperk

maar daar’t viool gespeel waar lenteblomme wals

miskien die kalfiewals?

so baldadig in die wind        o, jou wind jou wind se kind

 

ou tant sien van die bordienghuis het vensters oopgeskuif

en korreloog gekoekeloer

hare uitgebesem hier en daar se haar se stywe haar

sý die eens verspotte lentebloeisel

in die tuin van groot genot         nou ingeperk tot sukkelsit

weggeteer tot klein-klein koggel-mander-lyf

 

eens het sy ronde rooibors sonne uit haar keel gelag

en duisend blinkgebleste mane in haar oë laat tol

toe wipgat klein kalbassies nog soos dassies

oor die steilte van haar lyf kon skarrel

en die swaaispog van haar lyf

–   ‘n shetland ponie    –

ou-ou herders van die skape

hul staf laat neerlê op háár mirrebed

o bed van gril genot : háár mirrebed

maar die soeke het verstok tot af-

gebreekte stompies van ‘n verdraaide witgatboom

en net in drome grou sy nog na uintjies van vermei

 

soms onthou sy nog :

die ou man op die stoep van die bordienghuis

probeer met knoetserige vingers

probeer met knoetsige hande

oor haar bontbegrysde hare streel

en verpulpte borste begin soos rose

stekelrig te rank   :

doringprikkies groei oor die ou man se hande

maar die lyf bly toktokkie :  sonder lyf

 

vir haar het hy ‘n boepens bottel wyn gebring

met ‘n prent van ‘n kopstaan nar daarop

en toe hy die wyn wou skink

het sy so bontbegrys hardop gelag

en die nar van die glas geskeur

het sy die bottel óópgebeur

toe bars haar horison met skuimborrels middeldeur

 

waarom was jy so kwaad, vrou met die verpulpte lyf?

waarom was daar ‘n skeur in die horison van jou verguiste hart?

dis die nag se verdriet van verlange na die ou man

na toktokkie-toktokkie-se-klop

maar die ou man bly doodhouertjie styf

 

eens het visioene soos rooigewangde appels

aan haar liefdesboom gehang

sy ‘n witgebeende eva wat uit oerbeen wakker word

het langs sý ribverwoeste lyf kom lê

sy lispel met ‘n addertong en reik met albei hande

na die appels van sy lyf

 

hoor hoe word die klapklank van haar tong

klein-klein happies wat verby die sterre spoel

en planete uit hul baan laat tol

om toi-toi weg te dans : nag van blou genot

 

as die sterre bokant boorde

hortende blinkblits uitskiet in die swart

sal ‘n engel kiewietvlerke klap en pollie ons gaan pêrel toe

op sy trompie t!goem

sal haar adam uit sy slaap ontwaak

en saamspeel hande klap en voete stamp

vir sy groengeblaarde lispelvrou wat pollie ons gaan pêrel toe

vir appelboorde sing?

[want wat hang mooier as rooiwangappels langs die pêrelpad

en wat proe soeter as ‘n blinkgebleste appel

uit songebleste boorde?]

 

hang jou harp aan die droë tak van ‘n witgatboom

en stort verdrietbloed uit jou hart

want ‘n appel rol soms vér :   verby die verste wegblyster

 

oor haar se papgeworde lyf spoel verlangesweet

van vergange riviere

maar stokstokkielyf sonder lyf lê die ou man

gekruisigde bene verdor en die ure tik-tik-

toktokkietik oor haar lyf

 

jy : jou pa het die koerant se letters neergesmyt

berig : die lyk van ‘n slodderjoggie is by die asgate gevind :

‘n deurgetrapte skoen en ‘n geruite skotse pet

skrapsgelapte broek en chinageel beskryfde frokkie

waarop vredevingers boëntoe blits :

 

die kind : ‘n papgedrukte soetlemoen

bloeiend in die sand

 

maaiers speel checkers op ‘n skotse pet

en kraaie skarrel tussen vrotgeworde kentucky –

ghoenie-ghoenie met die seun : die soetlemoen

 

[daardie môre : duiwe wat koer bokant plastiek

en karton en blikplaat roesrumoer

hoe het hy gelag en gespeel in strate

waar riool sý landskap óórverspoel

en papkan verdrinktes soos gewonde soldate

oor slagvelde heen en weer marsjeer

terwyl predikers : flap-flap verminkte duiwe

vredesboodskappe koer

sing hosanna : verlossing is naby]

 

voor die bloemistery sit ‘n vrou met ‘n verlepte

manjonet in die hand

waar verbystappers op uitgetrapte trottoirs

maak of hul nie hoor

hoe windharpe háár treurlied akkompanjeer

vir hóm wat nou slampamper vér van wit papier

en swartpunt pen

 

die vissies in die sementdammetjie

is seker nog daar          rondomswembaljaar

koi-koi kleur-vir-kleur-vermeng

en rampie in die buitekamer

seker nou net withaar rampie in die agterkamer

so verweer van gras se sny

groen-groen gras maar hare wit soos wol

‘n engel uit die agterkamp van ingeperk

nog steeds so fluks maar ópgedaan gewerk

 

toe hy nog ‘n rammetjie tussen baldadige ooie was

kon hy met ‘n jonggeblomde lyf

skoorsoekerige stormrammetjies ontkoppel

maar hedendaags is sy meertandige vurk

deur ouderdom en roes verstomp

 

hoe smag hy na dae van botterblom en sporrie

lentereëns en perdebos wat geel-geel sterre teen die rante los

waar sy hart soos kokerbome kliplangs blom

en wildeperdehoek se pas

draai vir draai voor hom uitverkwyn :

tot by haar soet fontein

 

sal sy weer soos sleepmis volspeen

oor die kamiesberg se spitse kom

om hom in witsheid van haar melklyf toe te blom

en sal hy weer die draaipad na haar lyf vergaffel :

wildeperdehoek se pas verken?

maar onder sý verkrimpte vyeboom

is alles dood en lê daar net ‘n uitgedorde korsie brood

 

jy : daar staan jy soos ‘n bliksoldaatjie

en wag vir ma se soen

o, bloedlemoen  o, soen se soen se bloedlemoen : judaskus?

afgeskil tot op die wit se witsel sonder swart

 

daar’s ‘n present vir jou ma

‘n hand vol rose iewers agterkerks afgepluk

en vir jou pa ‘n dikleesboek en gladlensbril

 

jy het jou kinders vroe-vroe mooi verwoord

nou staan hul agter jou ma en lag hul buitelands

blinkgebleste hare witlyf sonder son

 

jou pa het seker nog die geweer wat jou oupa weggesteek het

toe die britte blitse oor die werf geblaas het

[jy ook uit jou voorgeslag miskien ‘n deel gehad het]

nou ingeperk in buitekamers van onthou

 

die wingerd verswanger van trosse rooi en groen

jou pa se lyf nou weggesnoei uit die lewe oud en afgerem

bruin soos wyn : so pers

soos droëlandstokke voor die reën se seën

net die amandelbome staan bloeiend in die blom en wag vir jou

om t’rug te kom

 

miskien wag roebel ook op jou met sy slawekoor

–      ai, hoe lank gelede het jy hom verloor     –

roebel wat kon speel en sing tot almal huil

as woorde uit sy koor se monde kwyl

maar toe was hý nog ingeperk  :  jy die

onaangetaste

 

jy hoor vir siebies blaf

kom ruik hier aan jou broek se pyp en blaf

sy vreugde oor die werf      jou mankbeen siebies

miskien moet jy vir elvis huur

om vir jou ma en pa te sing van jailhouse rock

en blue suede shoes of love me tender

of green green grass of home

 

die seep het lankal glad geword      van stort tot stort

uit jou hand geglip       so buk jy af      al laer af

om die lyf te red van ewiglik se diépgatgly

 

die dekor staan nog styf gespan oral waar jy reis

al is daar wurms in die vlees        bly die lewe steeds

‘n glipglyfees

 

so sal jou voete water trap vanúít die stort tot in die pad

so kom jy om so kom jy om         ingeperk tot wegvat kom

 

jou ma se hand vol rose het jy ingeplant hier teen die muur

gedog daar kom ‘n weersiens op

maar jy is ingeperk waar baksteenwoorde steen-

vir-steen afdrup teen die muur

daar’s deuntjies in jou kop      four walls    

five hundred miles away from home

love me tender

 

sal jy ooit ‘n skree laat gaan

verby sterre tot anderkant die universum

waar wolke druppels oor ‘n ander leefland stort?

hoor jy die heutjiehee wat óúnag na sy maat bly skree :

groot verlang die heutjiehee : augustusmaand

se heutjiehee?

 

hoe lank sal jy nog hier kan sit en droom

langs ‘n verpotte wingerdstok        of verdroogte vyeboom

waar oë nie meer  kan opkyk na die berge

en mis soos witwol oor die boggels stort?

[oorryp druiwe gis mos aan die stok

en winter met sy lang sambok verjaag die drome

soos dassies weg van sonplanete

tot in die dieptes van ‘n gravitasiekolk]

 

o die kolk, die dolksteek van die lewe?

 

op ‘n mierhoop tussen ghwarriebos en witgatbome

sit koggelmanders wipkop klopgalop

en slurp aan somersonne

ag, hoe gryp en klou jy    vinger toon en ingedorde lyf

voordat jy soos koggelmanderlyf

ontsê van rondgeronde pram en lou-lou heuning

agter ghwarriebos en witgatbome ingegriffel word

 

maar jy is ingeperk waar baksteenwoorde steen-

vir-steen afdrup teen die muur

four walls    

five hundred miles away from home

    love me tender

 

© Thomas Deacon, 2020

 

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*

  •