twee vroue
die vrou sit gestrand in haar vel
arms bene voetjies netjies bymekaar
ingesout op vier-en-neëntig jaar
is die hart nog fiks genoeg om lig
te gee aan ’n donker kontinent
die dogter praat ’n bospad oop
vertel van katte en ’n reis na engeland
hoe groot haar kleinseuns word
die vrou staar weggekeer, glimlag
en vra sag: wie is jy nou weer?
op ’n hoogte parkeer die dogter haar kar
en kyk na die dun naelstring van die see
die son sak en breek ’n bloedlyn af
spatsels vlam, weerkaats momenteel
verdonker vinnig as sy huiswaarts keer
(Uit: grondwater, marlise joubert. Protea Boekhuis, 2019)
