Heilna du Plooy: Desember 2020
Desember 2020
Die jaar het in homself in ingesink,
die tyd het uitgevloei en ingekrimp
met alles bleker en stiller in die oë bo
die maskers en hande wat ontwykend wink.
Maar infrastruktureel stu alles voort,
onstuitbaar en geprogrammeer tot wins
in ’n feestyd leeg van herkoms en sin
met kleure en klanke swaar op die oog en die oor.
Koue winterrooi, ysgroen en silwerwit,
merk die hele maand in hierdie land.
Oral, oral, aanhoudend en in vreemde ritmes,
dawer al die mooi ou liedere. My gees word blik.
Maar die aarde self maak haar hart en liggaam steeds oop
om die as en die oorskot van die afgestorwenes
te ontvang en te genees, hier waar die somersonlig
heuningkleurig is en mens in helderte oopoog kan bid en hoop.
© Heilna du Plooy (12 Desember 2020)