Heilna du Plooy. Seesuite 5
Seesuite 5
Die see
Die see is ‘n wit geruis,
dit doof ander geluide uit.
Langs die see hoor jy net die see;
hoor jy hoe van oer tot nou, van heinde tot hier
die water in lengte en breedte en diepte en hoogte,
in wydte en weidsheid bly stuwe en stoot,
bly dein en bly bruis; hoor jy hoe die see
deur niks onberoerd gelaat word nie.
Die see se vingers tas
die landmassas tot teen die berge af.
Die see se stuif word mis en vogtige lug:
die see is eintlik die aarde se vel.
Die see se reëlmaat druis sigself tot stilte,
en in die stilte hoor ek die basisnote en die bowetone
waarsonder daar geen lewe is nie.
© Heilna du Plooy
J’baai
April 2019