In Varanesi, die stad van Shiva, jaag rietskraal
as besmeerde ou Saddu’s met spierwit baarde
en oë donker van inkyk, op wilde perde
tussen die vlammende brandstapels
langs die logge lyf van die groot rivier
hier bevind my man homself, oorblyfsels en klein voëltjies
rumoer in sy mond, soos ’n patrysie krap hy in die grond
hy het sy vingerafdrukke verloor, nou eet hy
die vingers van melankolie, die hartstog van sy hande
en die bitter blare van nostalgie
oplaas trek hy trek sy sterfjas uit sodat die voëls
van begeerte vry oor die heilige Ganges kan sweef.
© Melanie Grobler, 2020