Tweeluik
NP van Wyk Louw, vyftig jaar later
I
Die hekke lê oop, die hoekpale omgestoot.
Niemand kom na buite of gaan binnetoe –
in iedere skuilte smul die eens gevreesde
nou as vertroueling aan
elke kouseltjie wat in die rondte
gestuur word.
Kyk, die hekke lê oop, die grensdrade slap.
Ongediertes loop vry in toegegroeide strate
en wonder waar almal heen is: stig brand,
breek af, niemand kom na buite
of gaan na binne. In elke tuiste word
vrees opgedis
as troos, want wanneer hoop
bloot ’n liggaam koud en stil in die gras is,
word die huis met ’n harder gebrul
en ’n nuwe woede
gevul
namate skrik, hongerte en dors soos brood
in stilte gebreek word waar
iedereen
op sy eie is. En alleen. Met geen hek
om ooit weer dig
te maak.
II
Generaal, o generaal –
Nou’s nié die tyd vir hinkepink nie,
nie die plek om jou ore met praatjies te stut
daar tussen die tente waar konkoksiestories
in hul potte prut nie.
Nou is sterftyd. O, deurlugtige, die vaandels
en trompetgeskal in aantog oor die vlakte
is jou nié ter wille nie, die rooksinjale
oor jou stede geen vreugdevuur –
Dis eie vestings wat brand. O generaal,
nou is nié die tyd vir skuinskyk nie,
want in hierdie uur
sterf ons: aan hierdie
nou
en hier.
[soundcloud url=”https://api.soundcloud.com/tracks/999025876″ params=”color=#ff5500&auto_play=false&hide_related=false&show_comments=true&show_user=true&show_reposts=false&show_teaser=true” width=”100%” height=”166″ iframe=”true” /]