Resensie: Soe rond ommie bos (Veronique Jephtas)

 

 

 

Soe rond ommie bos deur Veronique Jephtas. Protea Boekhuis, 2021.

Resensie: Nini Bennett.

 

Veronique Jephtas is ’n veelsydige kunstenaar en opwindende nuwe stem in Afrikaaps. Sy het haar honneursgraad in drama en teaterstudies in 2019 aan US voltooi en haar debuut as dramaturg met Hoe change hulle by die Woordfees (2020) gemaak. Jephtas was ook deel van die Jakes Gerwel-Stigting en PEN Afrikaans se skrywersresidensie in 2020. Inderdaad ’n indrukwekkende CV vir ’n 24-jarige skrywer, aktrise en regisseur. Tog is Jephtas allereers ’n aktivis, ’n angry young woman wat na analogie van haar manlike eweknieë van die vyftigerjare keelvol is vir sosiale ongelykhede. In Engeland het Anchuli Felicia King, dramaturg van White Pearl, en Selina Thompson met Salt in 2019 die Royal Court-teater op horings geneem en volgens kenners het dié dramaturge weer momentum aan die angry young women-beweging gegee. Dekades ná die angry young men stoom verloor het, volg die vroulike aktiviste wat, soos Jephtas, in geen ondubbelsinnige taal hulle woede jeens geslagsgebaseerde geweld, historiese ongeregtigheid, wit bevoorregting en rassisme laat geld nie. Sedert die uitbraak van COVID-19 het sosiale ongelykheid verdiep en geslagsgebaseerde geweld kommerwekkend toegeneem in Suid-Afrika. Jephtas is ’n born free, gebore na 1994 in ’n land met meer geleenthede vir almal, maar waar die wonde van die verlede halsstarrig bly sweer. Sy gebruik ook poësie as platform vir haar protes en omarm alle multimediafunksies tot haar beskikking om haar gehoor te bereik. Haar videogedig op sosialemediaplatforms, The apology we never got waarin sy president Cyril Ramaphosa uittrap omdat hy nie genoeg doen om geslagsgebaseerde geweld aan te spreek nie, het soos ’n veldbrand versprei.

Jephtas sluit aan by onder meer Ronelda Kamfer, en in die bedankings agter in die bundel sê sy: “Ronelda Kamfer. King, jou woore, “Vee, jy censor jouself”, het gemaak dattie ding begin ruk het en van daai tyd af, toe maats ek mettie attitude van ’n girl met twee curly ballas, ’n lolliepop in my mond, ’n AK-47 en my mirrelvinger na die wêreld toe. Saloet.” Die bundel is brutaal eerlik met min sensuur en selfsensuur – en Jephtas verteenwoordig ’n stem vir die hedendaagse Suid-Afrika.

Die titel, “Soe rond ommie bos” is ontleen uit die vers, “die man wattie koeie melk” (p. 9), strofe 3:

 

soe rond ommie bos

my tong skiet los

ek praat ytie mond vanne meid mette warme bôs

ek praat ytie oegpunt vanne maid yt Stellenbos

 

Die dubbelduidige “maid” spot fyn, en Stellenbosch kom inderdaad in die jong aktivis se visier, byvoorbeeld in “driving lesson” (p. 41) en “endgame” (p. 45).

Die gedigte betrek Afrikaanse liedjies, kinderspeletjies, persoonlike anekdotiese vertellings wat aangebied word as straatwyshede, of verse wat die leser ontrafel soos raaisels. Die gedigte verras in hul komplekse eenvoud. So byvoorbeeld is die kinderspeletjies – wat inheemse kultuurgoed vir Afrikaanses is en ironies as samebindende element tussen rassegroeperinge gesien kan word – nie onskuldig nie. “Soe rond ommie bos” herinner aan “Koljander, Koljander (ook ‘Aljander’) so deur die bos…”, met die sinistere einde “die laaste een se kop word afgekap!” En die koppe rol behoorlik in die bundel. Die speletjies het ’n onheilspellende ondertoon. Ook die idioom, “om iemand om die bos te lei” (te bedrieg) kom by die leser op.

Op p. 12 verwys die spreker na die speletjie, “spite”:

 

spite

in my kinnerjare het ôs kak baie spite gespeel

ek wietie wat julle it noemie

[…]

spite betieken jy vat ieman virre poes

deliberately

dis net ’n pity die blokke issie grootte van ’n tronksel

en as jy vasgevang is dink jy nie nog vêder

assie grootte van jou blokkie

is daa waa ôs gelee het om mekaa te spite

 

Die donker ondertoon is dat die spel verradelik is – of dat verraad self in die volwasse lewe as ’n ‘spel’ bedryf word. Op p. 10 word wegkruipertjie as opwindende kinderspel gejukstaponeer met die ontnugtering van volwassewording – en wens die spreker dat sy eerder nóú (as volwassene) kan wegkruip ná alles wat sy gesien het en nou weet.

Ook liedjies word geparodieer en die trant is een van ontluistering, byvoorbeeld p. 34:

 

sannie

sannie sê sannie sal siewe sakke sout sliep

wie is sannie en waantoe gan sannie mettie sout?

gepraat van sliep

gerald sliep elke sarag vi siena deurie gangetjie

dai twie perform elke gotlike nawiek soe

hulle syp saam

dan skel hulle saam

moer mekaa

moer anne mense saam

dan byrie hys slap hulle saam

maa ek het altyd gewonne

soek hulle nie iets annesie

die next nawiek

sal ek wee hieso sit

met my doppie en my kusch

dan hoo ek wee net gerald se ma se poes

wan sannie sê sannie sál siewe sakke sout sliep

wat sannie soek sál sannie kry

al is siena al half moeg en vrek vannie baklei

 

Alledaagse trivialiteite in die verbygaan kry nuwe poëtiese betekenis, byvoorbeeld in “coca-cola, fanta, sprite” (p. 11) word die koeldranke sinoniem vir “Blacks. Coloureds. Whites”. Die digter let op detail en besin oor die raaiselagtige toevallighede van dinge.

“Issie ’n cycle nie, is life”, die tweede gedeelte in die bundel, handel oor geslagsgebaseerde geweld. In “Bly nog ’n rukkie” (p. 36) word die ambivalente stem van ’n mishandelde vrou, wat haar man/kêrel nie kan los nie, gehoor. Dít wat sy eintlik negeer, is ook dit waarvoor sy vra.

 

gie my nog een klap tien my wang

gooi nog een glas wyn deu my gesig

trek nog een kee my hare

gil my naam af innie gang

briek nog een laaste bôd in my naam

haal wee ôs foto’s yt elke raam

kô trug

bly nog ’n rukkie

langer

 

Maatskaplike ellende en armoede word verbeeld in “12 desember 2016” (p. 26) wanneer die spreker berig oor haar ouma wat haar huis verloor het en by die werk was toe die kinders uitgesit is.

In die ironiese “mandela se legacy” (p. 31) word antie Gerty se drankmisbruik voortgesit as sy wyn koop van haar maatskaplike toelaag (SASSA), ’n nalatenskap van Mandela maar óók van die dopstelsel: “kyk met wat het mandela vi antie gerty gelos / geld vi wyn / die system wêk nog once […]”

“driving lesson” (p. 41) verras met sy dubbelduidige gebruik van die woord “links” as die spreker gaan vir ’n bestuursles in ’n wit woonarea in Stellenbosch:

 

[…]

byrie stop

doen ek my observasies

draai links, ennie wit vrou wat daa draf

haloep binne innie sloot en inne tak

die instructor sê, kyk hoe skrik sy vir jou

ek sê, wow, she saw a black person

 

In die derde deel, “hie rukkie ding” word witmense met hulle pretensie, skynheiligheid en ondankbaarheid (wit bevoorregting) uitgetrap. Baie verse spil rondom (oorgeërfde) kulturele misverstande, en al marsjeer die spreker met ’n AK-47 en middelvinger na die wêreld (met verwysing na haar saluut aan Ronelda Kamfer in paragraaf 2 hierbo), is van die verse komies – en die leser moet glimlag vir die jeugdige moedswil, al is die sosiale kritiek eg en relevant.

In “born free” (p.15) en “R200” (p.18) word daar na die spreker se afwesige vader verwys na ’n “sperm donor”. Jephtas is gevat en verras met kwinkslae, al is die wrang humor ’n kamoeflering vir bitterheid en pyn. “born free” se dubbelbetekenis, naamlik dat die sreker ná 1994 gebore is maar dat die vader nie by was met haar geboorte nie, maak van haar ironies ’n “vrygeborene” sonder die juk van patriargie waarteen sy elders uitvaar. “R200” (p. 18) vertel van die “sperm donor” wat soms R200 vir haar by Shoprite inbetaal, maar origens net leë beloftes aan haar maak.

Jephtas takel sensitiewe kwessies kaalvuis – en sy is ’n dapper digter. Haar verse is stewig geanker in die ideologiese en maatskaplike kwelvrae van ons tyd. Sy lewer verfrissende en gestroopte poësie en verstaan die kuns van woordekonomie. Die lang motto van James Baldwin voor in doen ongelukkig afbreuk aan die bundel – dit vertoon pretensieus en die gravitas van die stuk tuimel bo-op die verse in, wat ligvoets beweeg.

In geheel gesien is Jephtas ’n digter om dop te hou, soos ook dié pragvers getuig:

 

colonized

Vade boe innie hemel

ek bid vi veannering

lei ôs na waters waa daa rus is

weg vannie castle ennie black

berei ’n tafel voo ôs vyande

en briek brood in plaas van ôs harte

laatie bloed ophou vloei

soesie wyn

en laat ôs mense beginne besef daas no reward virrie pyn   (p. 52)

 

Bookmark and Share

Comments are closed.