
Velázquez: Las Meňinas
Michel Foucault
filosofeer oor die episteme
en die ligskynsel in hierdie skildery:
die spel tussen werklikheid
se gatkant, genaamd illusie.
Die Wagtende vroue speel af
in Madrid waar Koning Philip,
die Vierde oorheers.
Die ruim kamer in die Alcazar
stal verskillende figurante uit:
Infanta Margaret Theresa
met Doña Isabel de Velasco
met Doña María Agustina Sarmiento de Sotomayor,
kniebuigend voor die Infanta,
vir wie sy ‘n búcaro eerbiedig aanbied.
Twee dwerge Maribarbola en Nicolas Pertusato
voltooi die prentjie, terwyl die een
skoorsoek met die slapende, bloubloed hond.
Dan sien ons doña Marcela de Ulloa,
glo die chaperone,
geklee in swart, neffens
die naamlose guardadama
na die agtergrond uitgeskuif,
ene Don José Nieto Velázquez,
glo Diego se groenoog neef,
eweneens die koningin se kamerheer.
Of soiets.
Koning Philip IV en koningin Mariana,
opdraggewers vir hierdie ryke tapisserie
word gestulp in die agtergrond
stilswyend in die refleksie van ‘n dowwe spieël.
Vlak vir vlak beweeg my oog
tussen wat daar was en ewig
bly uitnooi en betekenis fnuik.
Enumerasie en optel hoort
eerder tuis in ‘n kinderspel.
En Velázquez, so by my kool,
lag die hele spul uit
welwetend hoe almal
sou bly wonder oor
die oortreding
van ‘n ordonnansie
in hierdie kaleidoskoop
met ‘n laaste sê:
so op die keper beskou.
© Joan Hambidge, 2021
