my mentor : Petra Müller
jare gelede het jy
die sweep van die woord
oor my versukkelde verse geklap
ek was geduldig, ek was gedwee
en soos die osse van jan f celliers
het ek padlangs gestap
met skowwe wat bult onder jukke
oor paaie waar woorde soos stof
oor my kliptogte waai
maar nou :
al is uitspan verby
sal jy vir altyd en altyd
my togleier bly
* Ironies dat die gedig op 17Junie geskryf is, nege dae vóór Petra se afsterwe .

Verskoon die slordige tikwerk… (En dis nie eens Cofidianus se skuld nie!) In my bogaande inskrywing, ook bedoel as erkentlikheid teenoor Thomas Deacon se veelseggende vers, moet dit natuurlik die ‘praktyk’ van die voor-die-hand-liggende wees wat vir my ‘n uitstaande eienskap van Petra Müller se doen en syn was, en nie ‘praktyd’ nie. Al sou mens dan ook so prakties moontlik met tyd wil omgaan wanneer die kissies druiwe verpak word hier met parstyd. Dis juis met daardie wynword voor die ewige wanneer geen verweer meer geprakseer kan word nie, ook nie vir geheelonthouers nie, en die kissies of jammerklagte of lyke en woorde partykeer sommer kaal weggegooi word op vullishope, dat ons nie kan nie bekostig om Petra Müller se aanwesigheid in stilte te laat verdwyn nie.
nou gaan dit om
hoé om
die dood mak te maak
soetjies, soetjies
sodat sy soetvoetjie
met bokkomkuite
langs jou kan kom
lankuitlê en soetjies
besit van jou neem
om jou asem uit te blaas
sonder al die geraas
van stilte
En net soos jy, Thomas Deacon, het ek ook al ‘n tydjie gelede die bogaande geskryf. Was dit met Petra Müller, die mooi Swellendamse nooi, in gedagte? Ek weet nie en wil dit ook nie weet nie. Geen gedig is ooit ‘generies’ nie. Wat ek wel wéét is dat ek haar onthou as ‘n suiwer mens, ‘n groot en diep skeppende gees wat besef het dat die ‘streek’, die ‘lokale’, en die ontginning en praktyd daarvan die enigste werklike toegang tot die ‘universele’ en die ‘inklusiewe’ is.
Kom ons onthou haar woorde wat ons nie kan bekostig om stil te verdwyn nie.