die inkommer
asem besit niks / en word deur niks besit nie /
en is niks se skip vol landsoekers
veronderstel dat dit wat jy nou probeer skryf
wat op hierdie woorde dryf
soos op ‘n donker spieël
‘n droom is —
veronderstel daardie boot
in die donkerlig uur wanneer alles vasgemeer is
in die ewigheid van ontwaking tot vorm
laat glip die vasmaaktoue een vir een
om met ‘n snik in die uitwissing te val —
en die skip begin gly geluidloos
tussen wal en wal
al af met die kanaal
deur ‘n synskap wat nog slaap
al is dit onrustig —
op die dek so nat asof van trane
en in die ruim onder watervlak
verbeel jy jou al die vergelykings
soos gekielhaalde begeertes
wat in die beweging van herkenning verhaal is —
die liefdes en die weggaan
die ongediertes en die motte
die torings van vlam
op verre landhoogtes om die hart te omkring
en stemme en stemme wat agter mure sing —
niks het ooit in die vergeteling verlore gegaan
en alles was dringend aanwesig
in kratte wat nou op ‘n ander oewer van papier
afgelaai moet word —
die kaai verdwyn en dis stil
soos ‘n nag wat asem inhou
vir die dag om nie gesien te word nie —
wat nie gesien word bestaan voort
sonder die lavering van bak en stuurboord
dryf soos wit gewade in die geheue
al die vertroudes wat lankal verdrink het
en nou soos ekvlekke effens dobber
in die vaartsog van woord na woord —
slaap die lewe dan nog?
wat het geword van die dansers?
is daar ‘n lyk in elke kajuit?
stil soos ‘n verlede gly die boot
in die kanaal van onvermydelikheid
wat gelewe het is binne handuitreik
die voëls slaap oopoog in donker struike
die luike is dig
swaar sak die newel om te keer
dat huise en heuwels omlyning kry —
waar die breë stroom mond
steun ‘n mishoring die ingehoue verdriet
van ‘n kus wat afskeid neem —
veronderstel jou droom is ‘n boot
met die boeg gerig na die donker oseaan
en jy wat ingeskeep sluimer en wag
vir die wêreld van lande om bewimpel
in ‘n horison van lig
te vergaan asof in die verblinding van vryheid —
gestel jy soek van dek tot dek
nou jy nie meer ‘n paspoort nodig het nie
na die piloot
wat hierdie boot oor die seë gaan stuur
na ‘n suide
waar alles oop en bloot sal ontvou
vir die siklusse om gelees en onthou
te bly bestaan
en nooit weer vertel of afgetel hoef te word —
en hoe daar niemand aan boord is
die kombuis is verlate
die kratte vol leeg
die kaptein dood —
en jy die verstekeling
in ‘n skip wat al sedert die daeraad
van gewaarwordende veronderstelling
vaar na ‘n bestemming of ‘n hawe
weggesink in die ink
Paname, 15 September 2021
© Breyten Breytenbach, 2021
Twee-en-dertigste gesang
Later, toe die enorme ruimte
heeltemal verdonker het,
was daar niemand meer,
behalwe die dooie man
en ‘n onbekende.
Vriendin en vyandin
het saamgesmelt
tot ‘n ander.
Die onbekende het sy rustige asemteue gehoor,
oor hom gebuig in die donker,
sy mond gesluit, hom gesoen
en hom saamgeneem met hul enigste mond.
— Hans Magnus Enzensberger, uit: Der Untergang der Titanic.Eine Komödie (1978)
© vert. Helize van Vuuren, 16 September 2021
__________________
Geluk, Breyten, en ‘n mooi nuwe lewensjaar