Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
15 September 202115 September 2021

Breyten Breytenbach. Die inkommer

 

die inkommer

asem besit niks / en word deur niks besit nie /  

en is niks se skip vol landsoekers 

 

 

veronderstel dat dit wat jy nou probeer skryf

wat op hierdie woorde dryf

soos op ‘n donker spieël

‘n droom is  —

 

veronderstel daardie boot

in die donkerlig uur wanneer alles vasgemeer is

in die ewigheid van ontwaking tot vorm

laat glip die vasmaaktoue een vir een

om met ‘n snik in die uitwissing te val —

 

en die skip begin gly geluidloos

tussen wal en wal

al af met die kanaal

deur ‘n synskap wat nog slaap

al is dit onrustig —

 

op die dek so nat asof van trane

en in die ruim onder watervlak

verbeel jy jou al die vergelykings

soos gekielhaalde begeertes

wat in die beweging van herkenning verhaal is —

 

die liefdes en die weggaan

die ongediertes en die motte

die torings van vlam

op verre landhoogtes om die hart te omkring

en stemme en stemme wat agter mure sing  —

 

niks het ooit in die vergeteling verlore gegaan

en alles was dringend aanwesig

in kratte wat nou op ‘n ander oewer van papier

afgelaai moet word —

 

die kaai verdwyn en dis stil

soos ‘n nag wat asem inhou

vir die dag om nie gesien te word nie —

 

wat nie gesien word bestaan voort

sonder die lavering van bak en stuurboord

dryf soos wit gewade in die geheue

al die vertroudes wat lankal verdrink het

en nou soos ekvlekke effens dobber

in die vaartsog van woord na woord —

 

slaap die lewe dan nog?

wat het geword van die dansers?

is daar ‘n lyk in elke kajuit?

 

stil soos ‘n verlede gly die boot

in die kanaal van onvermydelikheid

wat gelewe het is binne handuitreik

die voëls slaap oopoog in donker struike

die luike is dig

swaar sak die newel om te keer

dat huise en heuwels omlyning kry —

 

waar die breë stroom mond

steun ‘n mishoring die ingehoue verdriet

van ‘n kus wat afskeid neem —

 

veronderstel jou droom is ‘n boot

met die boeg gerig na die donker oseaan

en jy wat ingeskeep sluimer en wag

vir die wêreld van lande om bewimpel

in ‘n horison van lig

te vergaan asof in die verblinding van vryheid —

 

gestel jy soek van dek tot dek

nou jy nie meer ‘n paspoort nodig het nie

na die piloot

wat hierdie boot oor die seë gaan stuur

na ‘n suide

waar alles oop en bloot sal ontvou

vir die siklusse om gelees en onthou

te bly bestaan

en nooit weer vertel of afgetel hoef te word —

 

en hoe daar niemand aan boord is

die kombuis is verlate

die kratte vol leeg

die kaptein dood —

 

en jy die verstekeling

in ‘n skip wat al sedert die daeraad

van gewaarwordende veronderstelling

vaar na ‘n bestemming of ‘n hawe

weggesink in die ink

 

 

Paname, 15 September 2021

 

© Breyten Breytenbach, 2021

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Breyten Breytenbach. Rou skryfberigte

1e kommentaar op “Breyten Breytenbach. Die inkommer”

  1. Helize van Vuuren says:
    16 September 2021 at 17:26

    Twee-en-dertigste gesang

    Later, toe die enorme ruimte
    heeltemal verdonker het,
    was daar niemand meer,
    behalwe die dooie man
    en ‘n onbekende.

    Vriendin en vyandin
    het saamgesmelt
    tot ‘n ander.

    Die onbekende het sy rustige asemteue gehoor,
    oor hom gebuig in die donker,
    sy mond gesluit, hom gesoen
    en hom saamgeneem met hul enigste mond.

    — Hans Magnus Enzensberger, uit: Der Untergang der Titanic.Eine Komödie (1978)
    © vert. Helize van Vuuren, 16 September 2021
    __________________

    Geluk, Breyten, en ‘n mooi nuwe lewensjaar

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Jan Rabie-Rapportprys 2026
  • Netwerk24 kykNET Rapport Herman Binge-filmprys 2026
  • Netwerk24 kykNET Rapport Breyten Breytenbach-prys vir digkuns 2026
  • Netwerk24 kykNET Rapport Boekresensent van die Jaar 2026
  • Netwerk24 kykNET Rapport-prys vir niefiksie 2026

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d