Die mense in my kerse
Om ’n kers te brand,
is ’n kuns. My lig rank
in die van katedrale, ek bid
teen die duisternis van die eeu,
droom my hoogste visioen.
Innuendo. Die vrou met die vraagteken
op haar rug, demensie se inlas,
onthou is die afwesige een.
Die roofridder wat my hart weggedra het –
hy is op pad, ek voel dit in my murg,
my diepste skaduwee
die kultus geheime wat net minnaars ken.
Illuminare. Die navorser wat snags oor
haar sleutelbord aan die slaap raak,
’n leeftyd in die akademie,
’n paper in die pyplyn –
Die kankerlyer wat vra om te sterf
want dis haar geboortereg, die doula
wag by die rivier.
Om ’n kers te lees,
is ’n kuns. Dis die fynkyk
van druipkeëls en karst. Kurator
van waswerk is ek, druppels vuur
word grotpêrels en oerkandeliere.
Preller se laagbrand smelt
‘n madeliefie sonder blaker. Ek slaap,
ek sien my siel en dit brand stip:
die droomliggaam weet meer
as die wakende een.
Die mense in my kerse
’n middelpuntvliedende dans,
’n vlag, flakkerend,
Ragnarok se godeskemering
voor my ligbel
in repe waai.
© Nini Bennett, 2021

Om Nini te lees, is altyd n diepe ervaring van ontdekking,taalverryking,en spirituele gewin. Haar beeldspraak voer jou mee, dog haar woordkeuse bly reguit, sonder omhaal. En dis ook die bondige netheid van haar gedigte wat ek glo elke ontluikende digter sal wil nastreef.
Mentor en digter soos min.