SNOW, Isa Steynberg
SNOW*
(Vir Isa Steynberg)
die haaivlakte ontwaak
boslande en dwergbome vol oumansbaard –
passasies van bome: katedrale
in die sneeu
denne, else, berke, lorke,
sparre .fototrope se gode
die ys smelt
kwiksilwer – ’n snaardun koue
hang aan takke
die helder ys
edelgesteentes se rilling aaneengerygde sterlig
wit is die kleur van verlorenheid
dis nie ’n kleur nie
dis ’n delusie in wit
’n Vortex sneeu, ’n werwelwind
beswyming – Cave se kristalverdowing
wit is die woord
en witter die wederwoord
in winter se bewaarwater van wit
© Nini Bennett, 2021
* Die groepsuitstalling, Red Right Hand (27 November 2021), soos ondersteun deur Gordon Froud, het gefokus op die werk van Nick Cave.
Kunstenaar: Isa Steynberg
SNOW: Pigment op linnebord
54cm x 76cm
‘“Ekfrasties” is dalk meer korrek.
Ek vind dit ‘n knap ekfraktiese gedig. Soos dit die doel is van hierdie tipe vers, beskryf dit ‘n ander kunswerk, in hierdie geval ‘n kunswerk deur Isa Steynberg. Skerp beelde soos “snaardun koue”, “aaneengerygde sterlig” en “dwergbome vol oumansbaard” tower die landskap op in die leser se gemoed.
Die intertekstuele “haaivlakte” stel ook die landskappe van Opperman in die loep.
Vrae: “sparre .fototrope se gode” – Het die spasie na “sparre” ‘n funkie? En die plasing van “.fototrope” sonder ‘n spasie na die punt?
Tweedens: Is die sydelingse verwysing na Cave funksioneel? Die leser kan Steynberg se beelde in die gemoed oproep sonder om die kunswerk voor die oë te hê, maar dié van Cave net met behulp van ‘n paar woorde?
Maar die gedig is baie genietbaar en mens verlustig jou in die trefkrag van die gestroopte taal.