Meiboom
(Vir Melodie)
I.
hoe skryf ek ’n gedig
oor jou
in die tyd van Covid –
maklik, want jy is lig.
Die feesgangers versier
die meiboom met rose
en vlae, ’n palmtak droom
dis pinkster en hoog bo
kroon die sonnewiel
die dag, 1 Mei elke jaar
word jy herbore
in die optog van fluite,
die eb en dy van linte
gedra
tot waar die swerfsteen
rus.
II.
26 Mei 2021.
168 miljoen gevalle wêreldwyd.
3.49 miljoen sterftes.
III.
Dis nie die naboom se melk
wat jou blind en lam
laat nie,
nie die noorsheuning
se brand nie –
dis die hibiskus
wat teen
die eerste koue beur.
Die dood dra dubbelborsblomme,
gekneusde snesies, gefrommel.
Hoe vlug
die breek, hoe lig
die val
uit die Boom van die Lewe.
IV.
Die meiboom vertak.
Glad
en sonder mededoë
rol die traanfilm
aangepas
vir die topografie van verdriet.
© Nini Bennett, 2021
* IV: Meiboomkliere in die oog skei ’n vetterige substans in die traanlaag af wat voorkom dat trane vinnig of maklik verdamp
