Da Capo
Van al die relieke, uitgestrooi met afskeid
is min dinge so leeg en eensaam soos ’n hoed;
dit reis tussenwêrelds na niks of na rus
en die kapstok sê: jy het gearriveer of gegaan.
Daar is min dinge so aanwesig soos ’n hoed.
Op al die haltes van aankoms en vertrek
was jou swaar kop die mooiste; groot
met skedelnate broos om die kroonare
wat roosrank deur jou brein. Jou hoed
was trots, maar hang nou verslae
aan die kapstok – sal dit ons haltes
van vergeet onthou as ek inboek
in die eensaamheid van dié vers?
’n Kapstok tel die ure se loopgang,
die kopskuiwe van hier en ver.
As ons ná die eendagsreis ontslaap, die self
kolskoot en finaal ophang aan die kerfstok
sal ek weer aanmeld by die laaste
halte – die inlas van verlies vind;
jou hoed hang daar, jy is hier,
vir ewig tuis. Ek het jou liefgehad
soos ’n hoed of ’n eenvoudige profesie.
(Boekstaaf, 2015.)
