Porseleinpop
As ’n porseleinpop kon skryf, sou ek jou gesig op ’n posseël laat druk.
As jy kon ruik, sou ek vir jou madeliefies op mars gaan pluk.
As jy kon glimlag, sou ek vir ewig aan daardie oomblik vasklou.
As jy kon droom, sou ek vir jou ’n lugkasteel
van wolke met silwer randjies kon bou.
Jou hare hang soos ’n drapeersel van suiwere goud
Jy’s mooier as die son se strale, al is jy reeds koud.
Jy – ’n porseleinpop – skyn saggies te slaap
al het jy ons lewend op aarde agtergelaat
As jy ’n paar woorde aan my kon toevertrou
Sou ons dieselfde lugkastele daarmee bou?
As is jy nou.
’n Porseleinpop was jy gister.
Tussen môre en porseleinpop-drome
sal jy vir ewig bly.
© Christo de Kock, 2022
